Vrydag 18 April 2014
Plaaslike Gids
OOS-RAND-BEELD

Ekurhuleni
'n Plek van vrede. Dit is wat die Tsonga-woord ekurhuleni beteken. Die Ekurhuleni-metro bestaan uit die sowat 25 dorpe en townships wat die oostelike gedeelte van Gauteng vorm en huisves sowat 2,5 miljoen mense. Die meeste dorpe in die Oos-Rand het tot stand gekom toe goud en later steenkool aan die Rand ontdek is.

Ekonomie
Vervaardiging is die hart van ekonomiese bedrywighede. Van metaalprodukte tot graankos word by die sowat 8 000 nywerhede vervaardig. Ja, jou ontbytpap kom van die Oos-Rand! Die enigste Kellogg’s-fabriek in Suid-Afrika is in Springs.

Vervoer
Die grootste en besigste lughawe in Afrika, die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, is in Kempton Park geleë. Die Randse Lughawe in Germiston is Suid-Afrika se grootste burgerlike lughawe. Germiston het ook die grootste spoorwegknoop in Suid-Afrika. Die streek word bedien met 'n uitgebreide vervoernetwerk wat bestaan uit die besigste snelweë in die land, sowel as die Gautrein, Suid-Afrika se eerste sneltrein.

Kuns en vermaak
Brakpan is die hoofsetel van vermaak in Ekurhuleni. Internasionale en plaaslike musieksterre is tuis by Carnival City se Big Top Arena. Besoek die Barnyard-teater in Boksburg of die Boma in Alberton vir 'n meer intieme teaterervaring en die kunsgalery in Springs vir plaaslike kunswerke.

Restaurante
Italiaans, Portugees, Asiaties... Die wêreld se kosliefdes is binne bereik van die fynproewer. By Lemon Grass in Benoni eet jy Hollands-Indonesies. Die sjef by die restaurant langsaan, Tajine, kom uit Morokko. Ora Bella in Boksburg is 'n Mediterreense restaurant en by Mythos in Bedfordview kan jy jou verbeel dat jy in Griekeland is. En as jy en jou gesin meer tuis is in 'n familierestaurant, hoef jy ook nie ver te soek nie.

Sport
Die Serengeti-gholfbaan buite Kempton Park is deur die gholflegende Jack Nicklaus ontwerp en geopen. Die landgoed was in 2010 tydens die wêreldbeker die tuisbasis van Nieu-Seeland se sokkerspan. In 2011 is die Suid-Afrikaanse ope gholftoernooi op dié baan aangebied. Kempton Park is ook die tuiste van die Valke-rugbyunie. Die Oos-Rand spog met ’n verskeidenheid sportklubs en die Oos-Gauteng Tennisvereniging is by Lakefield in Benoni gesetel. Motorsport en wettige versnelwedrenne is vir baie inwoners van die Oos-Rand ’n gunstelingtydverdryf en vind plaas in
Brakpan by die Nitro-wedrenbaan en The Rock Raceway.

Verblyf
Die Oos-Rand bied ’n wye spektrum van verblyfgeriewe, van gastehuise soos La Chateau in Kempton Park, tot luukse vyfster-hotelle soos die D’Oreale Grande Hotel naby die O.R. Tambo Internasionale Lughawe en Emperors Palace. Van Alberton tot in Boksburg sal jy iewers ’n slaapplek kry wat jou sak én styl sal pas.

Inkopies
As daar een ding is wat jy in die Oos-Rand kan doen, is dit inkopies! In dié streek vind jy alles, van spoggerige winkelsentrums tot vlooimarkte.
East Rand Mall in Boksburg, sowat 7 km van die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, spog met Suid-Afrika se grootste Pick n Pay-hipermark en 180 winkels. By Festival Mall in Kempton Park sal jy die enigste ysskaatsbaan in die Ooste van Johannesburg aantref. Die Lakeside Mall in Benoni lyk soos ’n Amerikaanse rivierboot en by The Mall@Carnival sal jy by Oos-Rand Stereo se nuutse satelliet-ateljee kan sien hoe hulle uitsaai.
Behalwe vir die groot winkelsentrums is daar Uncle Tim’s Cabin in Benoni waar jy unieke oudhede en versamelstukke sal raakloop. As dit winskopies is waarna jy soek, gaan maak ’n draai by die East Rand Trader’s Square, met meer as 500 vlooimark-stalletjies onder een dak! Jy kan op Saterdae ook vars plaasprodukte raakloop by gemeenskapsmarkte soos die Le Petit-môremark in Benoni en die Rietvlei Boeremark in Alberton.

Natuurlewe
Tussendeur die geharwar van die stadsgewoel is daar wel nog plekke aan die Oos-Rand waar wildlewe en die natuur bewaar word. Wildlife in Crisis buite Springs is ’n rehabilitasiesentrum vir siek of beseerde inheemse wilde diere. Die Serengeti-gholflandgoed het ook ruimte om die gholfbaan geskep vir die bewaring van vleilande en wildlewe. In Westdene in Benoni is die Korsman-bewaringsgebied, ’n pan omring deur graslande, bome en klippe. Korsman is ook die tuiste vir ’n groot verskeidenheid voëls, visse, paddas en insekte.

Avontuur
In Germiston kan jy leer om 'n helikopter te vlieg. In Springs kan jy gaan valskermsweef. As jy egter hou van jou voete plat op die aarde, kan jy die Blesbokspruit-voetslaanroete aanpak. Wat jou adrenalienvlakke ookal opjaag, daar is heelwat geleentheid aan die Oos-Rand vir avontuur, van perdryskole en piekniek tot plesierritte in 'n Dakota.
Die meeste dorpe aan die Oos-Rand het tot stand gekom toe goud en later steenkool aan die Rand ontdek is. Foto: Charlea Sieberhagen
Carnival City in Brakpan is 'n vermaaklikheidsmekka. Foto: Verskaf deur Carnival City
Die Serengeti-gholfbaan buite Kempton Park is deur die gholflegende Jack Nicklaus ontwerp en die Suid-Afrikaanse ope-gholftoernooi is in 2011 daar gehou. Foto: Christiaan Kotze
Die lugskou by die Randse Lughawe in Germiston lok jaarliks duisende besoekers. Foto: Wolfram Zwecker
Motorwedrenne by The Rock Raceway in Brakpan laat die adrenalien pomp. Foto: Abie Sada
By die East Rand Trader’s Square in Boksburg is daar meer as 500 vlooimark-stalletjies onder een dak. Foto: Retha Fick
Benoni se Lakeside Mall lyk soos ’n Amerikaanse rivierboot. Foto: Charlea Sieberhagen