Brakpan by die Nitro-wedrenbaan en The Rock Raceway.
Verblyf
Die Oos-Rand bied ’n wye spektrum van verblyfgeriewe, van gastehuise soos La Chateau in Kempton Park, tot luukse vyfster-hotelle soos die D’Oreale Grande Hotel naby die O.R. Tambo Internasionale Lughawe en Emperors Palace. Van Alberton tot in Boksburg sal jy iewers ’n slaapplek kry wat jou sak én styl sal pas.
Inkopies
As daar een ding is wat jy in die Oos-Rand kan doen, is dit inkopies! In dié streek vind jy alles, van spoggerige winkelsentrums tot vlooimarkte.
East Rand Mall in Boksburg, sowat 7 km van die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, spog met Suid-Afrika se grootste Pick n Pay-hipermark en 180 winkels. By Festival Mall in Kempton Park sal jy die enigste ysskaatsbaan in die Ooste van Johannesburg aantref. Die Lakeside Mall in Benoni lyk soos ’n Amerikaanse rivierboot en by The Mall@Carnival sal jy by Oos-Rand Stereo se nuutse satelliet-ateljee kan sien hoe hulle uitsaai.
Behalwe vir die groot winkelsentrums is daar Uncle Tim’s Cabin in Benoni waar jy unieke oudhede en versamelstukke sal raakloop. As dit winskopies is waarna jy soek, gaan maak ’n draai by die East Rand Trader’s Square, met meer as 500 vlooimark-stalletjies onder een dak! Jy kan op Saterdae ook vars plaasprodukte raakloop by gemeenskapsmarkte soos die Le Petit-môremark in Benoni en die Rietvlei Boeremark in Alberton.
Natuurlewe
Tussendeur die geharwar van die stadsgewoel is daar wel nog plekke aan die Oos-Rand waar wildlewe en die natuur bewaar word. Wildlife in Crisis buite Springs is ’n rehabilitasiesentrum vir siek of beseerde inheemse wilde diere. Die Serengeti-gholflandgoed het ook ruimte om die gholfbaan geskep vir die bewaring van vleilande en wildlewe. In Westdene in Benoni is die Korsman-bewaringsgebied, ’n pan omring deur graslande, bome en klippe. Korsman is ook die tuiste vir ’n groot verskeidenheid voëls, visse, paddas en insekte.
Avontuur
In Germiston kan jy leer om 'n helikopter te vlieg. In Springs kan jy gaan valskermsweef. As jy egter hou van jou voete plat op die aarde, kan jy die Blesbokspruit-voetslaanroete aanpak. Wat jou adrenalienvlakke ookal opjaag, daar is heelwat geleentheid aan die Oos-Rand vir avontuur, van perdryskole en piekniek tot plesierritte in 'n Dakota.