Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Bejaardes vrees vir hul lewe in gebou

’n Stukkende hysbak, water wat in hysbakskagte oor elektriese bedrading loop en balkonmure wat dreig om in duie te stort, is van die probleme waarmee pensioentrekkers in ’n woonstelgebou in Brakpan te kampe het.

Hul klagtes val glo op dowe ore.

Die situasie by Tweedy Park in Voortrekkerstraat het sodanig versleg dat ’n klag vroeër vandeesmaand by die openbare beskermer (OB) ingedien is.

Tweedy Park word deur die Ekurhuleni-metroraad besit en bestuur.

Die VF+ het adv. Thuli Madonsela, OB, gevra om onreëlmatighede en korrupsie in die Ekurhuleni-metro se departement van behuising te ondersoek.

“Ons lewens is in gevaar,” het ’n omgekrapte inwoner, Chris Erasmus (81), verlede Dinsdag gesê en verduidelik dat daar reeds jare lank byna geen onderhoud aan die gebou gedoen word nie. Sowat 112 bejaardes woon in die agtverdiepinggebou.

Drie watertenks op die dak lek aanhoudend en oorstroom gereeld dele van die gebou. Die betonstruktuur raak poreus en kan in duie stort.

Volgens die inwoners werk een van die twee hysbakke die afgelope vier jaar net af en toe.

Met Oos-Rand-Beeld se besoek was dié hysbak glo reeds vier weke lank weer stukkend.

“Ons is bekommerd dat noodpersoneel nie betyds by ’n pasiënt sal kan uitkom nie,” het nog ’n inwoner, wat anoniem wil bly, gesê. Daar bestaan ook kommer dat water wat in die hysbakskagte oor elektriese drade loop lewensverlies kan veroorsaak.

Die stoepmuur op die sesde verdieping is besig om in te sak en gloeilampe op die stoepe word nie vervang nie.

Die gebrek aan onderhoud is egter net een van baie probleme.

Nie net val klagtes op dowe ore nie, maar die inwoners word glo in die proses beledig en kleineer.

“Ons is te bang dat ons name genoem word, want hulle sal ons net bloot uitsit,” het ’n inwoner van die kothuise (daar is 50 eenhede waar paartjies woon) gesê. “En waar sal ons heen gaan? Meeste van ons se kinders wil ons nie hê nie.”

Inwoners moes nuwe huurkontrakte onderteken sonder dat die nuwe huurbedrag daarop aangebring is. Uitgawes wat nie in die kontrak genoem word nie soos vir administrasie, onderhoud en dienste word dan later bygevoeg.

Twee huurders het intussen verklarings afgelê dat ’n amptenaar omkoopgeld ontvang het.

Dié is steeds in sy posisie.

“Die VF+ het verlede jaar reeds ’n skrywe oor die aangeleentheid gerig aan Patricia Kumalo, die speaker van Ekurhuleni, maar tot dusver geen antwoord ontvang nie,” het adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder, gesê. “Ons het daarom nou geen ander uitweg nie as om die openbare beskermer te versoek om die aangeleentheid te ondersoek.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom