Woensdag 23 April 2014
Artikels / Hoe om... liefde aan 'n Alzheimer-lyer te betoon

As 'n geliefde op bekende plekke verdwaal en later selfs nie meer jou naam onthou nie, krimp jou hart ineen. Retha Fick het kenners gevra hoe jy liefde betoon aan 'n Alzheimer-lyer.

Maryna (skuilnaam) van Boksburg se ma is 84 jaar oud en ’n Alzheimer-lyer. Sy woon nou reeds drie jaar lank in ’n tehuis in dié dorp.

“Die moeilikste is dat sy niemand herken nie,” sê Maryna. “Dit is nog my ma, maar dit is verskriklik wat die siekte aan haar doen.

“Ek is bitterlik lief vir haar. Sy was ’n wonderlike ma en het op haar dag baie hard gewerk. Nou stel sy in niks belang nie en is heeltemal in haarself gekeer.” Maryna sê die siekte was vir die familie ’n groot skok.

“Dis nie maklik nie.

“Ek het vir haar ’n pop gekoop. Sy en die pop is nou onafskeidbaar.”

Hoe gereeld gaan sy kuier?

“Minstens een keer per week en elke ander tydjie wat ek kan. Ek sal nie ophou gaan nie. Soms, net soms, so hier en daar, is daar so ’n effense herkenning.”

Alzheimersiekte is ’n soort demensie wat skade in breinselle en die uiteindelike dood van die geaffekteerde selle veroorsaak in veral dié dele van die brein wat geheue, taal, persepsie, denke en gedrag beheer.

Namate meer breinselle aangetas word, vermeerder en vererger die simptome.

Colleen Nunn, ’n verpleegsuster en eienaar van Sasonah Lodge in Germiston, sê hoewel Alzheimer-lyers meestal deurmekaar is, hulle tog helder oomblikke kry wanneer hulle weer onthou wie en waar hulle is.

“Ek moedig daarom familielede aan om wel vir hul geliefdes in tehuise te gaan kuier, al is dit swaar. Dit maak tog ’n verskil, al ken hulle jou nie en al vergeet hulle dat jy daar was.”

Nunn gee ook die volgende raad:

  • Alzheimer-lyers geniet meestal fisieke kontak. Gee baie drukkies.
  • Gesels met hulle. Enige interaksie met mense is goed vir hulle.
  • Blaai saam deur ’n tydskrif, bou ’n maklike legkaart.
  • Neem hulle aan die hand en stap saam deur die tuin.
  • Alzheimer-lyers is dol op musiek, veral musiek uit hul jong dae. Dié wat nog kan is ook dol daarop om te dans.
  • Hul langtermyngeheue is gewoonlik beter. Wys vir hul foto’s van toe hulle kinders was.

Nunn sê verder mens moet besef dat jy met ’n siek mens te doen het.

“Moenie enige beskuldigings of swetstaal persoonlik opneem nie. En moenie in argumente betrokke raak nie. Besef wat die pasiënt beleef is s realiteit, al is dit hóé vreemd. Probeer as’t ware deel word van sy wêreld. Speel saam.”

 

  KOMMENTAAR 
 
Adri het geskryf:   
2013-04-27 09:13

My pa het ook Altzheimers gehad, en het ons maar daardie tyd al geweet wat is die simptome, kon ons hom baie meer gehelp het. Ongelukkig is hy reeds in Oktober 2010 oorlede, op die ouderdom van 82 jaar. Vandag, as ek artikels lees oor Altzheimers, besef ek hoe erg was ons in "denial" wat hierdie siekte aanbetref. Al wat ek kan sê is mense, as julle 'n Altzheimers oumensie by julle het, gee hulle soveel liefde as moontlik. Sorg dat hulle op die regte medikasie kom, vroegtydig. As dit eers te laat is, is dit baie swaar vir daardie persoon. Hulle het soveel liefde en aandag nodig. Ek wens ek kon die tydjie terugkry met my pa, ek sou dit heeltemal anders hanteer het.
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom