Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Nuus / Talle verpleegsters is werkloos

Terwyl daar ’n tekort aan verpleegpersoneellede by verskeie mediese instellings is, sit talle opgeleide verpleegsters by die huis omdat hulle nie werk kry nie.

Die verplegingsvakbond, Denosa, het luidens ’n verklaring sy kommer oor dié kwessie uitgespreek.

“Dit is ook die geval in Ekurhuleni,” het Sibongiseni Delihlazo, woordvoerder van Denosa, aan Oos-Rand-Beeld gesê.

Volgens Delihlazo het meeste van die provinsiale gesondheidsdepartemente nie beplan en begroot om hierdie verpleegsters in hospitale te plaas nie.

“Wat die probleem vererger, is dat talle van die aangestelde verpleegsters na aan aftrede is. Dit neem maande om verpleegsters wat aftree, te vervang. Dit bring mee dat die oorblywende personeellede uitbrand weens die hoë werklading,” het Delihlazo gesê.

Angela (skuilnaam) van Tsakane het al in Mei verlede jaar haar gemeenskapsjaar by die Verre Oos-Rand-hospitaal afgehandel. Sy is ’n gekwalifiseerde verpleegster, maar sê sy werk steeds as ’n student.

“Daar is blykbaar nie geld vir permanente aanstellings nie,” het sy gesê.

Sy sê sy kan ook nie intussen om ander werk aansoek doen nie omdat sy volgens haar kontrak deur haar kollege by ’n hospitaal geplaas moet word. Haar kontrak verstryk eers in 2014.

“Ek is kwaad en bekommerd,” het sy aan Oos-Rand-Beeld gesê.

Angela is swanger met haar eersteling en sê sy verdien nog ’n studentesalaris.

“Ek is die broodwinner in my gesin,” het sy gesê.

“Dit is algemene kennis dat tekorte aan verpleegsters in die land en ook by die Verre Oos-Rand-hospitaal ’n bron van kommer is,” het Hendrik Buda, woordvoerder van dié hospitaal, gesê.

Die Life Roseacres-kliniek in Germiston is deel van die Life Healthcare- groep. Volgens Mpho Lethoko, woordvoerder van dié groep, word sowat 1 400 verpleegsters deur hul eie opleidingskollege opgelei.

“Statistieke toon daar is ’n afname in die aantal verpleegsters wat in sekere sektore opgelei word. Daar was nie genoeg fokus op gespesialiseerde verpleegsters en die tekort aan dié soort verpleegsters nie.

“Een van die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word, is verpleegsters wat emigreer. Ons verpleegpersoneellede word ouer en daar is nie genoeg opgeleide verpleegsters om hulle te vervang nie,” het Lethoko gesê.

Lethoko meen ’n tekort aan verpleegpersoneel beïnvloed die gehalte van sorg wat pasiënte kry.

Delihlazo meen ook die tekort veroorsaak dat pasiënte langer in die hospitaal bly voor hulle ontslaan word.

“Dit kos geld om mense in die hospitaal te hou. Dit beteken byvoorbeeld die begroting vir kos moet groter wees. Dít is die soort uitdagings waarmee ons sukkel.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom