Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Wanneer ouers buite die lyne inkleur

Toe dit langnaweek word, pak ek my tas vir ’n uittog see toe.

Met die vliegtuig.

Die lughawe is ’n geroesemoes van mense. Afkondigings dreun oor luidsprekers. Kinders tou agter volwassenes aan. Dit is skoolvakansie.

Voor my by die instaptoonbank verloor ’n vrou haar humeur. Ek kan nie agter die kap van die byl kom nie, maar wat onmoontlik is om nié te hoor nie, is haar rassistiese opmerking wat ek nie hier kan herhaal nie. Die blonde kleuterseuntjie by haar wil groot-oog weet of daar nou nog vir hulle sitplekke op die vliegtuig gaan wees. Sy sussie rem verskrik aan haar ma se arm terwyl dié woedend voorttier oor die mense wat ons land regeer. En ek kan nie help nie om te dink: Só word die saad van rassisme in die kop van ’n kleuter geplant.

In die vliegtuig wurm ek my lyf by twee meisietjies verby tot by die sitplek teen die venster.

Die vliegtuig is vol. ’n Baba huil onophoudelik. Vriendelike langbeenpop-lugwaardinne loop op en af in die paadjie.

In die ry voor my sit ’n jongerige paartjie met hul kleuterdogtertjie. Dié kry nie haar sit nie. “Sit nou stil,” sê die ma kwaai. “En maak vas jou sitplekgordel. Hulle gaan jou afgooi as jy nie nou stilsit nie.”

Oomblikke later weer, kwaaier dié keer: “Hulle gaan jou van die vliegtuig afgooi.”

En ek kan nie help nie om te dink: In die kop van ’n meisietjie word vriendelike lugdienspersoneel mislike monsters wat kinders by vliegtuie se vensters uitgooi as hulle net ’n voet verkeerd sit.

Kinders kleur hul prentjies van die lewe in met die kleure wat hul ouers vir hulle gee. Pa en Ma se interpretasie van die lewe verbind die kolletjies van die sketse wat kinders van die lewe voltooi. Uit grootmense se woorde en gesindheid maak kinders sin uit die groot wêreld waarin hulle op hul beurt eendag grootmense gaan wees.

Dit laat my dink aan die gedig “Children learn what they live” wat die Amerikaanse skrywer en gesinsberader Dorothy Law Nolte in 1954 geskryf het.

’n Uittreksel daarvan lui: “As kinders met kritiek saamleef, leer hulle om te veroordeel. As kinders met vyandigheid saamleef, leer hulle om te baklei. As kinders met goedkeuring saamleef, leer hulle om van hulself te hou. As kinders met bedagsaamheid saamleef, leer hulle om respek te hê.”

Kinders leer inderdaad soos hulle lewe.

Die vliegtuig styg op. Die twee sussies, ek raam hulle nie ouer as tien nie, haal boekies en potlode uit en begin “Naam, van, dier, dorp” speel. Giggel nou en dan. Eet kiepiemielies.

Hul pa, wat in die ry agter ons sit, terg hulle oor iets. Help hulle om iets te kies om te drink op die spyskaart.

“Moet ons met ons eie geld betaal, Pappa?” sê die een.

“Nee, Pappa sal betaal,” kom die antwoord rustig, gerusstellend. Die boodskap aan sy kinders wat in sy omgang met hulle weerspieël word, raak my diep. Pappa het jou lief. Pappa is daar vir jou.

En ek kan nie help nie om te dink: Alle kinders verdien ouers wat die lewe vir hulle reg inkleur.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom