Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Nuus / Emmasdal-skool in krisis

Dit lyk asof die spreekwoordelike pap op die grond val by die Emmasdal-Kinder-en-Jeugsorgsentrum (Emmasdal CYCC), voorheen bekend as die Hoërskool Emmasdal, buite Heidelberg.

Dié Kinderwetskool se residensiële funksie is kort ná hul eeufeesvieringe verlede jaar na die departement van maatskaplike ontwikkeling oorgeplaas.

Die Kinderwet bepaal dat nywerheidskole vervang word deur spesiale jeugsorgsentrums. Dié sentrums moet dan deur die departement van maatskaplike ontwikkeling bestuur word. Die onderwys-gedeelte bly egter die verantwoordelikheid van die onderwysdepartement.

Nou lyk dit of die wiele afval by dié sentrum. Met Oos-Rand-Beeld se besoek het kinders in skooltyd onder die bome rondgesit en die terrein het ooglopend agteruitgegaan. Daar is glo ook toenemende voorvalle van ernstige intimidasie en viktimisering van onderwysers.

“Wat in 100 jaar hier opgebou is, is in net een jaar afgebreek,” het Peet Grobler (61), wat die adjunkhoof was voor hy einde Februarie vanjaar afgetree het, oor die situasie gesê.

Die skool se bankrekening is, sonder dat die beheerliggaam daarin geken is, op 21 Junie verlede jaar uit die bloute deur die departement van basiese onderwys gevries en die tekenregte aan dié departement oorgedra. Die balans aan die einde van Mei was sowat R697500.

Sedertdien het die skool geen geld van die onderwysdepartement ontvang nie terwyl klasse soos gewoonlik voortgaan. Diensverskaffers kon nie betaal word nie en onderwysers betaal nou uit hul eie sakke vir afrolwerk, internettoegang en selfoongebruik. Ondernemings dagvaar ook die skool vir uitstaande skuld. Personeellede wat op die perseel woon, het uitsettingsbevele gekry.

“Niemand weet wat aangaan nie,” sê Flip Minnaar, voorsitter van die beheerliggaam. “In beginsel is die plan van jeugsorgsentrums nie ’n slegte idee nie, maar die oornameproses by Emmasdal word nie goed bestuur nie. Kommunikasie van die departement se kant af is power.

“’n Jeugsorgsentrum het nie ’n beheerliggaam nie, maar ’n komitee wat deur die staat aangewys word. Die skool se beheerliggaam is tot op datum nie amptelik ontbind nie. Die departement van onderwys ignoreer ons navrae. Ons kry nie notules van vergaderings waar belangrike ondernemings deur die departement gemaak word nie.”

Volgens ’n onderwyser wat anoniem wil bly het die departement in Augustus verlede jaar belowe om binne ’n week uitsluitsel te gee oor die toekoms van die skool.

“Ons het tot vandag niks gehoor nie. Niks was gereed vir die veranderinge nie en personeellede kon geen insette in besluite gee nie.”

Daar is tans geen sielkundige dienste by die sentrum nie, terwyl sielkundige ondersteuning as ’n onmisbare diens aan dié kinders beskou word.

“Dit is jammer dat kinders wat deur die staat hierheen verwys word om gehelp te word in so ’n situasie moet instap,” het Margie Grobler, ’n voormalige onderwyseres, gesê.

Volgens Moipone Komane van die onderwysdepartement bestaan daar nie regulasies waarvolgens die oorname moet geskied nie.

“Die departement het ’n intensiewe veranderingsbestuursproses gevolg in vennootskap met maatskaplike ontwikkeling en die bestuur van die skool.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom