Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Nuus / Kyk daar hoe stoom hy op sy nuwe spoor

Die Johannesburg Live Steam-klub het ná 50 jaar ’n nuwe tuiste gevind by die Rietvlei Zoo Farm buite Alberton.

Die nuwe treinspoor vir mini-stoomlokomotiewe is verlede Saterdag amptelik geopen.

Dié klub vir stoomlokomotief- en enjin-geesdriftiges is 53 jaar oud. Dit was vir 50 jaar by Pionierpark by Wemmerpan in Alberton gevestig en vantevore vir drie jaar in Roodepoort.

“By Wemmerpan het ons meer spore reggemaak as met die lokomotiewe gery,” sê Shawn Kock, een van die klublede.

Volgens Clive Chadwick, voorsitter van die klub, is die klub se nuwe tuiste tussen ponies, ’n paar poue en nuuskierige plaasdiere veiliger en meer gesins-vriendelik.

“Ons is vreeslik besteel en het onder vandalisme deurgeloop,” het Fred de Beer, een van die klub se komiteelede, Saterdag vertel.

Chadwick en De Beer het in November begin om die nuwe spoor van 600 m aan te lê.

Op dié spoor ry klublede dan met hul skaalmodel-stoomlokomotiewe en -enjins al deur die park en kan hulle mense selfs op plesierritte neem.

Die lokomotiewe, wat op die oog af soos speelgoed lyk, kan tussen vier en 16 volwassenes op ’n waentjie trek.

“Dit wys net hoeveel krag daar in stoom is. Jy het so min krag nodig om so baie werk te doen,” sê De Beer, wat self 21 jaar lank ’n treindrywer was.

Die skaalmodelle word opgebou en gegrond op die planne van ou stoomlokomotiewe, soos die Royal Scot wat in die laat 1800’s in Londen gebruik is.

Chadwick sê hulle hoop die klub se nuwe ligging sal meer mense lok en ook die klub laat groei. Hulle wil graag later na ander parke uitbrei.

“Dis ’n stokperdjie, maar ons hoop om by soveel plekke moontlik dié ou goed vir mense te wys. Ons wil dit vir die wêreld wys,” sê hy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom