Maandag 21 April 2014
Tuisblad / Nuus / Mynwater nou gestort voor impakstudie

Die departement van waterwese het vroeër vandeesmaand toestemming gekry om die krisis van suurmynwater aan die Rand te takel vóór die vereiste omgewingsimpakstudie.

Konstruksie van behandelingsaanlegte en pypleidings kan nou onder meer by die Grootvleimyn in Springs en East Rand Proprietary Mines (ERPM) in Germiston begin voordat ’n omgewingsimpakstudie gedoen is van die ingryping, soos deur die omgewingswet vereis word.

Wanneer konstruksie afgehandel is, sal gemiddeld 106 megaliter suurmynwater per dag by die Grootvleimyn (oostelike kom) uitgepomp, behandel en in die Blesbokspruit gestort word. By ERPM (sentrale kom) sal gemiddeld 72 megaliter per dag uitgepomp, behandel en in die Elsburgspruit gestort word.

Die behandelde water sal steeds ’n hoë soutinhoud hê en nie geskik wees vir menslike gebruik nie.

Daar word geraam dat suurmynwater teen ’n koers van 0,32m per dag styg en dat die kritieke vlak (wanneer dit grondwater besoedel) in die sentrale kom al teen Junie vanjaar bereik sal word en in die oostelike kom teen Junie volgende jaar.

Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing het aangedui hy gaan teen die besluit appelleer.

“Dit is verkeerd om die mynwater in die spruite te laat loop,” sê Paul Fairall, vleilandkenner, en voeg by daar word met vuur gespeel.

“Die Blesbokspruit, wat Ramsar-status het, beleef reeds geweldige druk van die mynwater wat van die Grootvleimyn kom. Dit is ontsettend gevaarlik omdat hierdie spruite die Vaalrivierstelsel voed. Nog ’n vleiland wat onder geweldige druk sal wees, is die Libradene-vleiland, wat reeds in ’n swak toestand is, naby die voorgenome behandelingsaanleg by ERPM.”

Die departement van omgewingsake sê die rede vir sy besluit is dat dringende ingryping nodig is omdat die voorkoming van die opborreling van suurmynwater in nasionale belang is.

Volgens sy bevindings sal onbehandelde mynwater wat onbeheers uitborrel eerder ’n nadelige effek op die omgewing hê as wanneer die behandelde water versprei word.

Die departement is tevrede met die proses van openbare deelname wat gevolg is. Belanghebbendes wat teen die besluit wou appelleer, kon tot Sondag hul voorneme bekend maak en het tot 27Februarie tyd om dit skriftelik te doen.

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom