Saterdag 19 April 2014
Tuisblad / Artikels / Man agter sokker in Afrikaans

Daar is min dinge so opwindend om te beskryf as 'n mooi doel in sokker, sê die sportkommentator en joernalis Johann Russouw (65). Retha Fick het dié Kempton Parker uitgevra oor sy lewe.

V Waar is jy gebore?

A Kaapstad

V Hoe lank woon jy al aan die Oos-Rand?

A 20 jaar

V Jy is self ’n sportman en het presteer in verspring en driesprong. Neem jy nog aan sport deel?

A Ek is ’n lid van die State Mines-gholfklub in Brakpan en geniet die spel geweldig.

V Watter sport geniet jy die meeste as toeskouer?

A Atletiek, sokker, gholf, swem, gimnastiek en stoei. Ek kan nie een uitsonder nie, want almal is vir my ewe mooi en opwindend.

V En watter sport geniet jy die meeste om uit te saai?

A Omdat ek self ’n atleet was, bly dit vir my altyd baie lekker om dié pragtige sport uit te saai, maar daar is darem min dinge wat so opwindend is om te beskryf as ’n mooi doel in sokker.

V Jy is die eerste radiokommentator wat ’n volledige sokkerwedstryd in Afrikaans uitgesaai het. Wat was die grootste uitdaging?

A Om eers die reëls van die spel te leer (omdat ek nooit sokker gespeel het nie) en daarna Afrikaanse terminologie en ’n eie uitsaaistyl vir die spel te ontwikkel.

V Wie is jou rolmodel in die uitsaaiwese?

A As atletiekkommentator Hendrik du Bruyn en as sokkerkommentator die BBC se kommentators, asook Mark Gleeson wat nou vir SuperSport uitsaai. Daar was nie ’n Afrikaanse rolmodel vir sokker wie se voorbeeld ek kon volg nie en ek moes maar my eie styl en uitsaaitegniek vir die uitsaai van sokker in Afrikaans ontwikkel.

V Wat is die belangrikste eienskap waaroor ’n sportkommentator moet beskik?

A Toewyding en deursettingsvermoë. ’n Suksesvolle sportkommentator moet lief wees vir die sport wat hy uitsaai en hy moet seker maak dat hy die deelnemers en die reëls van die betrokke sportsoort deeglik ken.

Uiteindelik kos dit baie harde en voortdurende werk om sport suksesvol te kan uitsaai.

V Watter plaaslike sportman of -vrou staan vir jou oor al die jare uit en hoekom?

A Dit is moeilik om ’n enkele sportman of -vrou uit te sonder, maar Gert Potgieter, Paul Nash en Fanie van Zyl (atletiek), Gary Player (gholf), Penny Heyns, Roland Schoeman, Chad le Clos en Cameron van den Burgh (swem) en Lucas Radebe en Neil Tovey (sokker), asook Natalie du Toit en Oscar Pistorius (Paralimpiese atlete), staan kop en skouers uit.

Hierdie sportmanne en -vroue het hul talent met toewyding en deursettingsvermoë ontwikkel en buitengewone sukses behaal, terwyl hulle ook uitstaan as navolgenswaardige rolmodelle vir Suid-Afrika se jong mense.

V Wat kan ’n talentvolle sportman of -vrou breek?

A Selfvoldaanheid en grootheidswaan.

V Watter rugbyspan steun jy?

A Westelike Provinsie

V By watter koffiewinkel of restaurant aan die Oos-Rand kuier jy graag?

A My vrou is ’n uitstaande kok, maar as ons ’n restaurant sou besoek, geniet ons graag ’n ete by Squires Loft by Carnival City en Fahrenheit in Benoni.

V Jou gunsteling-:

A Fliek: Dokumentêre programme oor antieke geskiedenis en sport.

A Kos: Kerrie (veral bobotie en samoesas).

A Boek: Antieke geskiedenis en biografieë oor sportmense.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom