Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Nuus / Catalina bereik die VSA in een stuk

’n 68 jaar oue PBY Catalina-vliegboot het twee weke gelede sy bestemming in San Diego, Kalifornië, in een stuk bereik.

Die tuig, wat in 1945 in Kanada gebou is, is die afgelope ses jaar by die Randse Lughawe in Germiston deur Springbok Aviation Services gerestoureer. Die lang tog na die VSA, waar die vliegtuig se nuwe eienaar woon, het net voor Kersfees begin.

Die vliegtuig het op 22 Desember van die Randse Lughawe opgestyg en was vir meer as drie weke op reis oor Wes-Afrika, Brasilië en Mexiko.

“Ná 12 000myl (sowat 20 000km), 14 stoppe en meer as 20 lande het ons dit uiteindelik gemaak tot by die huis in Gillespie Field. Ons is pootuit,” het Matt Voigt, die ingenieur wat deel was van die vierman-bemanning, op 15 Januarie uit Kalifornië laat weet, volgens Springbok Classic Air.

Die Catalina, wat uit die era van die Tweede Wêreldoorlog kom, vlieg teen gemiddeld sowat 170km/h. Die tuig stuur nie outomaties nie en iemand moet voortdurend die stuurstang vashou, het Beeld vroeër berig.

’n Plaaslike koerant, die U-T San Diego, het Mike Castillo, een van die vlieëniers, aangehaal waar hy gesê het: “Ek het al baie lekker dinge gedoen; baie unieke dinge in lugvaart, maar dié een vat die koek. Dit was ’n droomtog.”

Die tuig se nuwe eienaar, Jim Slattery (62), is ’n versamelaar van San Diego. Dit is die 46ste vliegtuig in sy versameling.

“Dis ’n liefdeswerk,” het Slattery gesê. “Dit gaan daaroor om te poog om die geskiedenis te bewaar.”

Die vliegtuig sal uiteindelik uitgestal word in die Greatest Generation Naval Museum, wat Slattery beoog om eersdaags te open.

Intussen het Flippie Vermeulen, eienaar van Springbok Aviation Services, gesê hulle is baie trots daarop dat die projek suksesvol afgehandel is. “Dit is een van die grootse projekte in sy soort wat onlangs ter wêreld aangepak is.

“Die grootste uitdaging was die strukturele werk wat aan die vlerke gedoen moes word.

“Die materiaal wat hiervoor benodig is, is die laaste keer in 1945 gedurende die bouproses van die vliegtuig vervaardig.

“Ons was baie gelukkig om die oorspronklike vorms vir die vervaardiging van die materiaal in die VSA op te spoor en die materiaal presies soos die oorspronklike te laat vervaardig.

“As in ag geneem word dat die Catalina dieselfde vlerkspan het as ’n B737, kan die omvang van die herbouproses begryp word. Ons het deurentyd besef die vliegtuig sou uiteindelik na die VSA gevlieg moes word en die afstand van 20 000 km sou ’n ware toets wees, nie net vir die vliegtuig nie, maar ook vir die kwaliteit van ons vakmanskap.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom