Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Ekurhuleni ken beurse toe aan toppresteerders

Drie van Ekurhuleni se toppresteerders is onlangs met beurse vir drie jaar se studie vereer.

Die uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, Mondli Gungubele, het die beurse tydens ’n ontbyt in die burgersentrum in Germiston aan Shreya Somera, Thabang Maepa en Dylan Nelson oorhandig. Die beurse is toegeken aan die beste presteerder in elk van die drie skooldistrikte in Ekurhuleni, Ekurhuleni-Noord, Ekurhuleni-Suid en Oos-Gauteng.

“’n Mens hoef nie altyd hard te werk nie, maar jy moet slim werk,” het Somera, ’n oud-leerling van die Sunward Park High School in Boksburg en die topleerling in Ekurhuleni, in ’n toespraak gesê. Sy was ook derde in Gauteng.

Sy het 10 onderskeidings gekry en gaan aktuariële wetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) studeer. Sy meen dié kwalifikasie sal haar help om ’n verskil in die samelewing te maak.

“Ek het reeds in Desember 2011 vir matriek begin voorberei. Maar ek dink die geheim is om konsekwent te werk. Dan hoef jy nie werk in te prop nie en die atmosfeer is baie meer ontspanne,” het Somera haar geheim verklap.

“Meditasie was ook vir my baie belangrik. Daardie 15 minute van stilte maak ’n groot verskil.”

Gungubele het die matriekleerlinge gelukgewens met hul prestasies en gesê ’n goeie opvoeding is bevrydend. “Harde werk, vasberadenheid en deursettingsvermoë is eienskappe wat tot sukses sal lei,” het Gungubele gesê.

Nelson van die Benoni High School het agt onderskeidings gekry en gaan aan die Universiteit van Kaapstad ’n BSc-graad in wiskunde en rekenaarwetenskap aanpak.

“Ek was in my matriekjaar meer betrokke by die skool. Ek glo dit is makliker om hard te werk wanneer jy gelukkig is,” het hy gesê.

Maepa van die Phandimfundo Secondary School in Daveyton het vyf onderskeidings gekry. Hy meen hy het al in graad 1 hard begin werk en meer tyd aan sy studies afgestaan. Hy gaan myn-ingenieurswese aan Wits studeer.

“Dit is ’n loopbaan wat gegrond is op my belangstellings en wat by my pas,” het Maepe gesê.

Ander leerlinge wat goed presteer het, is Eduan Oosthuizen van die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton. Hy is vyfde in Gauteng. Lois Oosthuizen van die Hoërskool Hans Moore was vyfde in Gauteng in die kategorie vir tegniese skole.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom