Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Nuus / Kenner van motte inspireer

Die verskil tussen ’n skoenlapper en ’n mot is eintlik kunsmatig, een wat bloot op taal berus. Daar is geen wetenskaplike verskil nie.

Dít is net een van die antwoorde wat Steve Woodhall, ’n skoenlapperkenner, op lede van die Modderfontein-bewaringsvereniging se vrae gehad het.

Woodhall, wat ook voorsitter is van die Afrika-vereniging vir lepidopteroloë, het vroeër die maand sowat 80 lede van die vereniging in die Modderfontein-dorpsaal toegespreek.

Hy het verduidelik mense dink dikwels motte is vaal en skoenlappers kleurryk. Hy het egter die teendeel bewys deur foto’s van kleurryke motte en vaal skoenlappers te wys.

“Oor die algemeen het motte wollerige voelers en vou hulle hul vlerke toe sodat dit soos ’n huis se dak lyk. Maar daar is natuurlik uitsonderings op hierdie reël,” het hy gesê.

“In Suid-Afrika is daar sowat 671 skoenlapperspesies. Daar is tussen 10 en 20 keer meer motspesies,” het Woodhall gesê. “En ons ontdek steeds nuwes.”

Hy het ook wenke gehad oor hoe om sekere skoenlappers na jou tuin te lok.

Die vyeboombloutjie, ’n skoenlapper met bruin en helderblou vlerke, word deur ’n vyeboom gelok, het hy verduidelik.

Vir die wat gewonder het watter wurm hul clivias verwoes, het Woodhall gesê die antwoord lê by die lelieboorder, ’n swart ruspe met geel strepe.

“Die ruspe stink en is giftig, maar die mot is nie skadelik nie,” het hy verduidelik. Hy raai mense aan om dié “pes” met ’n bak water met ’n bietjie skottelgoedseep en canola-olie te bestry, eerder as met insekdoders.

“Sowat 90% van die ruspes wat jy in jou tuin sien, is motte. Ons weet nie in watter soort mot 80% van hulle gaan verander nie.”

Woodhall moedig mense aan om by die Afrika-vereniging vir lepidopteroloë aan te sluit en foto’s van skoenlappers en motte op die South African Butterfly Conservation Assessment se virtuele museum te laai. Besoek http://sabca.adu.org.za/.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom