Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Daar word weer gedans by Bapsfontein

Soos van ouds het meer as 500 mense die Nuwejaar by die Bapsfontein-hotel ingedans. Ja, daar word swaar weer in Bapsfontein gedans. Retha Fick het 'n draai by dié legendariese hotel gaan maak.

Net een gloeilamp het in die middel van die yslike danssaal gebrand toe hy die eerste keer daar ingestap het, vertel Gert Wolmarans.

Die plek was verniel. Dit het gestink en dit was donker. Van elektriese kabels was daar nie sprake nie. Iemand het op die vloer vuur gemaak. Die meeste vensters was gebreek.

Tog het Wolmarans, Fanie van Wyk van Benoni en André Zehnder van Pretoria sowat ses maande gelede besluit om dié bouval te koop en tot sy vorige glorie te herstel.

Dit was eers nadat die transaksie gefinaliseer is dat hy gewonder wat hom besiel het, vertel Wolmarans terwyl ons deur dié 55 jaar oue gebou stap.

Hier is vroeër tot laatnag partytjie gehou. Musieklegendes het hier naam gemaak Lance James, Barbara Ray, Min Shaw.

Van heinde en ver het mense gekom om te dans.

Dinge was anders in daardie tyd. “Geen enkelmanspersone sal toegelaat word nie” was die reël, aangebring by die voordeur. “Drag: Streng aanddrag en vol pakke alleen.

“Geen kinders en denim-klere sal gedurende dans-aande toegelaat word nie.”

Jy sou nie ’n man sonder ’n das daar kry nie, vertel dié wat weet. Die vroue het aandrokke gedra.

Daar is baie stories soos dat mens so lekker dans omdat daar vere onder die houtvloer van die dansbaan is. En daar is die storie dat die dansvloer in die rondte kon draai.

In die dansplek se nuwe gedaante gaan daar ’n groot verandering gemaak word: Kinders gaan nou toegelaat word, verduidelik Wolmarans.

“Hier is nie ’n ander plek in die omgewing waar mense kan gaan dans en hul kinders saamneem nie. En dit is hoe ons wil hê dit moet wees.

“Oujaarsaand was hier ’n springkasteel vir die kinders en kinderoppassers het ’n ogie gehou. Ek het 02:00 die springkasteel gaan afsit.”

Die grootskaalse agteruitgang van die hotel kom al lank aan. Die hotel het in 1994 sy deure gesluit.

Duisende plakkers, van wie vele jare lank op die perseel gebly het, is in 2011 na Putfontein verskuif. Die danssaal is in dié tyd as ’n sjebien gebruik.

Hoe voel die gemeenskap daaroor dat die plek herleef?

“Mense is positief. Oral waar ek reis, en ek reis wyd, as die mense hoor ek kom van Bapsfontein, dan is hul eerste vraag of daar nog by die hotel gedans word. Dan vertel hulle van hoe hulle daar gedans het.”

Hier kort nog baie uur se harde werk, sien ek toe ons deur die ou hotel stap.

“Ons doen dit in fases,” sê Wolmarans. “Die 20 kamers gaan oorgedoen word. Ook die perseel aan die oorkant van die pad, waar die plesieroord was, sal skoongemaak en opgeknap word.

“Ons het reeds nuwe vensters ingesit in die danssaal.

“Die hele houtvloer moet nog uitgehaal word. Ons wil ook weer die restaurant oopmaak.”

Raak hy nie moedeloos oor die omvang van die taak nie?

“Nee, nie moedeloos nie; eerder gefrustreerd omdat dit tyd neem.”

Uit ’n stowwerige boks wat in ’n donker hoekie staan, haal Wolmarans ysbakke van egte silwer wat in die oorspronklike hotel gebruik is.

“Ons het yskaste uit die kombuis gehaal wat nog houtdeure het,” vertel hy.

Op die muur is ’n raam met ou pamflette wat vertel van die goeie, ou tyd. Die bont teëls op die vloer is stukkend.

“Met liefde sal die plek regkom,” sê Wolmarans.

Of daar regtig vere onder die plankvloer van die dansbaan is, sal net die tyd leer.

Al wat saak maak, is dat daar weer in Bapsfontein gedans word.

 

Die hart van vermaak - 'n terugblik
 
Frans Hattingh, ’n 32-jarige bouer, het die Bapsfontein-hotel in 1952 gekoop.
 
In 1955 het hy die eerste danssaal voor die hotel gebou en elke Vrydag en Saterdag is daar tot laataand gedans met musiek deur Van’s Swing Band.
 
Hattingh het later ’n plesieroord oorkant die hotel ontwikkel met ’n saal en ’n verhoog, ’n swembad, piekniekgeriewe en mallemeules.
 
Al Willox en sy groep het sedert 1956 vir vermaak gesorg.
 
Net ’n jaar later moes ’n groter danssaal gebou word.
 
Die LM Talent Parade is vanaf 1961 op Saterdagaande regstreeks vanaf Bapsfontein uitgesaai en het gehore van tot 3 000 mense gelok. Die halfeindronde is deur 7 000 mense bygewoon en ’n onbekende onderwyser, Min Shaw, het skares in die eindronde bekoor.
 
In 1962 is die danssaal verder opgeknap met twee verhoë en ’n houtvloer met plek vir 750 paartjies. Dit het bekend geword as die grootste danssaal in die Suidelike Halfrond.
 
Bapsfontein was so bekend dat die BBC in 1977 ’n dokumentêre program oor die dorp gemaak het.
 
Frans Hattingh het die hotel in 1982 aan Manuel da Cal verkoop. Groot country-konserte met tot agt kunstenaars het steeds duisende mense gelok.
 
Die laaste optrede in 1994, toe die hotel gesluit het, was dié van Mango Groove.
 
Bron: Dream Merchants en Malcolm Lombard
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom