Woensdag 16 April 2014
Tuisblad / Nuus / "Ons harte is stukkend."

“Niemand in hierdie lewe kon so mooi lag soos jy nie. Ons sal altyd daarvoor luister in die wind.”

Só het Ansie en Johan Neethling geskryf in die begrafnisbrief vir hul dogter, skoonseun en kleindogter wat in Desember in Sabie dood is toe hulle by ’n waterval afgestort het.

’n Roudiens vir Pieter Prinsloo (38), sy vrou, Adele (35), en hul dogter, Shanté (13) is Woensdag by die Jesus is Lig AGS-kerk in Eastvale, Springs, gehou.

Die Prinsloos, wat in Northmead gewoon het, is op 28 Desember dood toe hulle die Rietfontein-waterval naby die Sabie Star Chalets saam probeer oorsteek het.

Hulle het vermoedelik hand aan hand op die gladde rotse geloop toe een van hulle blykbaar gegly en van die 30m ver geval het.

Die kerk was stampvol en verskeie rouklaers het met rukkende skouers na past. Ben Loubser gesit en luister.

Die gesin is reeds veras en drie klein houtkissies het op ’n tafeltjie voor in die kerk gestaan.

“Hierdie kinders is nie dood nie. Hulle leef in Jesus Christus,” het Loubser gesê.

’n Skyfievertoning met foto’s van die Prinsloos is gewys.

Albert Prinsloo, Pieter se broer, het ná die diens aan Beeld gesê dis vir hulle as familie baie tragies.

“Hulle was baie geheg aan mekaar.”

Albert se vrou, Melanie, het bygevoeg: “Hulle het voluit vir mekaar geleef. Hulle was altyd gelukkig.”

’n Bewoë Pieter Prinsloo sr., Pieter en Albert se pa, het gesê sy seun was ’n liefdevolle mens.

“Pieter sou dit geensins aanvaar het dat sy kind weg is en hy is nog hier nie.”

Pieter sr. en sy vrou, Santa, het in die begrafnisbrief geskryf hulle gaan hul seun en sy gesin vreeslik mis.

“Ons harte is stukkend, maar ons sal so lewe dat ons julle weer eendag sal sien.”

Die Neethlings het oor hul skoonseun geskryf: “In jou stilte het jou krag gelê. Baie dankie dat jy die twee prinsesse in jou lewe so bederf het.”

Hulle het Shanté as hul “liefiekind” beskryf.

“Op die plaas het die natuurkind in jou uitgekom! Jy het altyd baie gelag. Het tussen die skape rondgedwaal en het soveel mooi herinneringe gelaat!”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom