Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Giggelende gr. 1’s in Kempton

Kaalvoetkinders, rokke wat te lank is, nuwe skooltasse en dogtertjies met twee poniesterte was vanoggend oral te sien op die stoepe tussen gr. 1-klaskamers.

Oos-Rand-Beeld het gaan inloer by die Laerskool Van Riebeeckpark in Kempton Park.

Met groot oë, haasbekkies en baie giggels het die nuwe gr. 1-leerlinge naamkaartjies gekry, vir hul nuwe juffroue drukkies gegee en hul kleurkryte uitgehaal om solank die eerste prentjie te begin inkleur.

Brian Barnard (6) het gesê hy sien baie uit na sy eerste skooldag, maar is veral opgewonde oor al die sportsoorte waaraan hy gaan kan deelneem.

“Ek sien die meeste uit na die oefening,” het Shakira Syed (6) gesê.

Jayde Herzfield (6) was baie in haar noppies met die bladsy wat hulle gekry het om in te kleur.

“Ek hou regtig báie van inkleur,” het sy gesê.

Sowat 160 nuwe gr. 1-leerlinge het vandag by dié skool begin.

By die Laerskool Concordia in Boksburg het 185 gr. 1-leerlinge aangemeld.

Die Laerskool Jan van Riebeeck in Springs se gr. 1-leerlinge het reeds hul eerste skooldag agter die rug met dié dat hulle reeds gister begin het. Volgens die skoolhoof, Herman Flemming, is dit vir die kinders “minder traumaties” wanneer hulle voor die tyd begin en die res van die skool nog nie daar is nie.

“Ons het ook ’n tradisie dat die nuwe leerlinge onder ’n ou slaweklok deurstap. Dan lui ons die klok. Wanneer hulle in gr. 7 is, stap hulle weer onder deur die klok, die klok word gelui en elkeen ontvang dan sy Bybel,” verduidelik hy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom