Twee skole in die Aeroton- en Vanderbijlpark-omgewing, Qhoweng Primary School en Vukazenzele Higher Primary School het elk R25000 gewen in die jaarlikse, landwye Collect-a-Can-kompetisie.
Altesame R200000 is by ’n geleentheid in Kyalami aan 12 skole gegee wat die afgelope jaar die meeste blikke bymekaar gemaak het.
Zimasa Velaphi, bemarkingsbestuurder van Collect-a-Can, sê: “Dit neem baie en harde werk om dié aantal blikke bymekaar te maak en dit beteken baie vir ons om erkenning hiervoor te gee.”
Riba Primary School in Pretoria het die meeste blikke 813568 bymekaargemaak, amper 600 per leerling.
“Benewens die prysgeld wat die skole se inkomste aanvul, is daar ’n merkbare toename in bewustheid van die omgewingsvoordele en skoonmaak van rommel,” sê Velaphi.
“Lede van die gemeenskap het selfs opgemerk dat die omgewing rondom deelnemende skole skoner is en dat daar selde ’n gebruikte blik rondlê.
“Ons sien uit daarna dat talle skole in die nuwe jaar sal inskryf vir die nasionale skolekompetisie. Met Collect-a-Can wat volgende jaar 20 jaar oud word, hoop ons om die skole nog meer te bied as aansporing.”
Bel Collect-a-Can by 011 466 2939 of besoek www.collectacan.co.za vir nog inligting.