Donderdag 24 April 2014
’n Storie oor takke
2012-12-12 15:08
’n Storie oor takke
Charlea Sieberhagen
Opgelaai deur:
Charlea Sieberhagen
Tema: Koes! Ek kook...

Teen die einde van die aand was daar ’n spatsel rooiwyn op die mat, die kerse was platgebrand en die takbokke was aansienlik minder.


My ma het by ’n vriendin van die Kersboom gehoor. ’n Witte. Sowat 1,5 m hoog en dit word vir R100 verkoop. ’n Winskoop as jy my vra.

Ek hou nog altyd van wit Kersbome maar omdat Kersfees in Suid-Afrika eerder sinoniem is aan sonskyn as sneeu verkies ek die groen bome of die wilgertak-gevlegte droë boompies versier met liggies.

Die boom is verlede week afgelewer en ek word wakker toe my ma vir my ’n foto van die boom stuur. Daar is nie ’n teken van plastiektakke of pote nie. Nee nee, dis nie ’n winkel-denneboom op daardie foto nie.

“Die boom kan nie by die voordeur in nie,” lees ek die boodskap.

’n Groot uitgedroogde boom, ’n bondel takke, wit gespuitverf, staan op die stoep. Ons nuwe Kersboom.’n Regte egte boom.

’n Paar klein takkies het in die slag gebly toe ons die boom deur die deur getrek het. Maar hy het staanplek gekry op ’n tafel in die hoek en was reg vir my gaste wat die naweek saam met my by my ouerhuis sou braai.

Met liggies en silwer en pers balle versier, het die boom ons televisiekamer betower. In groen en rooi het ons tot laat die aand gebraai. (En ironies genoeg nié na Kersmusiek geluister nie maar na Mumford & Sons en ander musiek, na my broer met die braaitang se smaak.)

Die Kersfeestema het tot by die kolwyntjies gestrek en ’n paar Kersboompies en takbokke het daardie aand lewe gekry.

Ek het die resep meer as twee jaar gelede in Rapport se Tydskrif gesien en dié jaar weer by die kosskrywer Heilie Pienaar opgespoor. Die lekkerste sjokoladekoek. Perfek vir kolwyntjies. Ek het al voorheen my gewone sjokoladekoek-resep vir kolwyntjies probeer, maar dit het glad nie goed gewerk nie want die koek trek voortdurend van die papiertjie weg.

Ek het op Pinterest aan die idee gekom.

Vir die takbokkolwyntjies het ek pretzels vir die horings gebruik, Zillions in peperment-geur vir die oë, ’n klein koekie vir die snoet (Chocolate brownie koekies by Checkers. Woolworths het blykbaar ook soortgelyke koekies.) en ’n M&M vir die neus.

Teen die einde van die aand was daar ’n spatsel rooiwyn op die mat, die kerse was platgebrand en die takbokke was aansienlik minder. Die gaste was flou en het begin verdwyn; die swartsak is uitgehaal om tot in die vroeë oggendure op te ruim.

Net die boom wat amper nie in die huis gepas het nie het nog daar gestaan en blink.


Sjokolade kolwyntjies

Lewer 12


Bestanddele

250 ml (1 k) koekmeelblom

8 ml (1½ t) bakpoeier

1 ml (knippie) sout

45 ml (3 e) kakao

125 ml (½ k) suiker

100 ml kookolie

60 ml (¼ k) melk

1 ekstragroot eier

5 ml (1 t) vanieljegeursel

omtrent 34 klein sjokolade eiers

1 Flake, gekrummel

Sjokoladeversiering

100 g botter of margarien

500 ml (2 k) versiersuiker, gesif

60 ml (¼ k) kakao, gesif

5 ml (1 t) vanieljegeursel

omtent 30 ml (2 e) melk, indien benodig


Metode

Sif meel, bakpoeier, sout en kakao saam. Voeg suiker by.

Klits olie, melk, eier en geursel saam. Meng goed saam en voeg by meelmengsel. Klits liggies tot gemeng en glad.

Skep in papier kolwyntjievorms of klein pannetjies met mengsel twee-derdes vol.

Bak vir 12 – 15 minute in ´n voorverhitte oond van 180 °C. Koel af.

Versiering: Klits die botter en versiersuiker saam. Voeg die oorblywende bestanddele by en klits tot glad. Moenie oormeng nie anders word dit loperig.

facebook
twitter
img
img
img
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom