Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / Inwoners gekant teen myn-aansoek

As die sowat 200 inwoners van Alberton wat onlangs ’n inligtingsvergadering bygewoon het hul sin kon kry, was die heraansoek van Central Rand Gold vir ’n mynlisensie in die gebied nou reeds van die baan, nog voordat die aansoek ingedien is.

’n Inligtingsvergadering is verlede maand in die Alberton-burgersentrum gehou om inwoners en belanghebbendes in te lig oor Central Rand Gold (CRG) se voorgenome heraansoek om mynregte oor groot gedeeltes suid van Johannesburg.

Volgens Tim Stormbroek, wat verbonde is aan Ferret Mining and Enviromental Services wat onder meer die omgewingsimpakstudies en die proses van openbare deelname vir CRG hanteer, doen CRG heraansoek vir die mynregte wat hulle reeds tussen 2005 en 2011 besit het.

Om heraansoek vir die mynregte te doen, moet daar egter nou weer openbare vergaderings ge-hou word en die insette van gemeenskappe wat moontlik geraak kan word, moet ingesluit word by die dokumentasie vir heraansoek.

In teenstelling met ’n vorige vergadering in Johannesburg waar daar sowat 50 mense was, het daar sowat 200 mense in Alberton opgedaag.

In antwoord op aantygings en stellings van mense in die gehoor het Bheki Mdakane, woordvoerder van CRG, erken dat CRG in die verlede foute begaan het, maar gesê hulle kan nie vir altyd daarvolgens beoordeel word nie.

Die verteenwoordigers van CRG het aangevoer dat daar genoeg wetgewing is om mynmaatskappye te dwing om onder meer ná sluiting die gemynde gebied te rehabiliteer. Dit is in elk geval in hierdie stadium nog te vroeg om enigsins te besluit of daar gemyn gaan word of nie.

Die verteenwoordigers het ook gesukkel om te verduidelik hoe dit moontlik is om heraansoek te doen vir ’n lisensie wat verval het.

Volgens Chris du Plessis, ’n prokureur van Alberton, moet die aansoek dus as ’n nuwe aansoek gesien en gehanteer word en nie ’n heraansoek nie, wat aan minder vereistes hoef te voldoen as ’n nuwe aansoek.

’n Voorstel uit die gehoor dat die heraansoek summier van die hand gewys moet word en dat CGR nie welkom is nie, is deur almal teenwoordig aanvaar. Net vier mense het buite stemming gebly.

Al die insette van die vergadering gaan nou saam met dié van die vorige vergadering en ander dokumentasie aan die departement van minerale hulpbronne gestuur word vir oorweging.

Die uitslag van die aansoek word in Maart volgende jaar verwag.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom