Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Sport / Dogter ry 94.7 saam met pa

Kerryn Roodt (23) kan nou ook die Momentum 94.7-fietswedren op haar lys van prestasies afmerk.

Dié parapleeg van Springs het al saam met haaie geduik, met dolfyne gespeel en valskerm gespring.

Kerryn is drie jaar gelede tydens ’n vakansie aan die Suidkus in ’n rooftog geskiet. Sy is sedertdien verlam.

Haar pa, Ray, ’n fietsry-entoesias, het die afgelope drie jaar gewerk aan ’n plan om dit vir Kerryn moontlik te maak om aan die 94.7-fietswedren deel te neem.

“Ek het besluit om ’n waentjie te bou waarin Kerryn kan sit en wat ek agter my fiets kan aantrek,” vertel Ray. Met die hulp van vriende en ondernemings in Springs is dié ligte, maar sterk waentjie in vyf maande gebou gereed vir die 94km-tog saam met bykans 30 000 fietsryers.

Kerryn was aanvanklik effens skepties.

“Ek het eers gedink my pa is mal om my sonder hulp agter sy fiets aan te trek. Maar tydens die wedloop was ek verstom oor die hulp wat hy van sy vriende gekry het. Hulle het ons nie alleen gelaat nie!

“Die atmosfeer was fantasties. Ek is so trots op my pa en baie bly dat ek so ’n wonderlike ervaring met hom kon deel.”

“Die wedren was vir ons ’n groot sukses,” sê Ray.

“’n Tawwe uitdaging, maar die beloning was op die ou end groot.”

Volgens Ray was die ondersteuning van vriende en selfs onbekende deelnemers, asook toeskouers, merkwaardig.

“Mense het ons teen opdraandes uitgestoot, soms tot ses op ’n keer. Die applous by die eindstreep het die hele projek die moeite werd gemaak.”

En hoe voel Kerryn oor die laaste drie jaar van haar lewe?

“Dit was verskriklik moeilik en as ek kon, sou ek vir seker wat gebeur het wou verander.

“Ek sal egter nie die ervaringe wat gevolg het wou mis nie.

“Ek het meer in die laaste drie jaar gedoen as in die eerste 20 jaar van my lewe. Ek het wonderlike mense ontmoet wat ek andersins nie sou ontmoet het nie.

“Hoop motiveer my. En die wete dat enigiets wat jy graag in die lewe wil bereik, moontlik is, maak nie saak hoe moeilik dit lyk of hoe hard jy moet werk nie.”

Kerryn werk by PGF Build- ing Glass in Springs en het pas haar studies voltooi om geleenthede te kan koördineer.

Sy sê: “Die beste raad wat ek tot nog toe gekry het, is om wanneer teenspoed jou tref te glimlag en nooit op te gee nie.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom