Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / 'n Eetplek waar jy tuis voel

Wit materiaalservette loer uit langsteelglase. Jy sien hulle sommer so deur die venster.

Dan word jy gegroet deur jou weerkaatsing in die spieël teen die toonbank, kraakvars wit tafeldoeke en eetgerei gedek vir ’n driegang-maaltyd.

Hiér is geen teken van rubbermatjies of eetgerei toegerol in papierservette nie.

Die naam Ikhaya beteken “huis” en dít is presies die gevoel wat hulle in dié restaurant wil skep, sê die mede-eienaar Dean du Croq.

’n Plek waar “almal tuis voel”.

Die wye verskeidenheid op die spyskaart getuig daarvan.

Die Afrika-tema word weerspieël in die stampmielies en tradisionele kerrieafval-gereg (kompleet met klein aartappeltjies), terwyl die tuisgemaakte malvapoeding en braaivleis-special aan boerekos herinner.

Vir diegene wat nie so gek is na ’n avontuurlustige spyskaart nie, is daar hamburgers, hoendersosaties en ’n hoender-schnitzel.

Die kruisskyf-kerrie met spek en boontjies is ’n 25 jaar oue familieresep wat die eerste keer deur Du Croq se pa gemaak is.

Die geregte vir vegetariërs is egter beperk. Maar al maak jy net ’n draai met die oog op Ikhaya se nagereg, sal jy nie teleurgesteld weggaan nie.

Die sjef en mede-eienaar Morgan Ncube skep sy soet bederfies van nuuts af. Daar is geen sprake van grootmaat- of aangekoopte en kits-geklitste enigiets nie. Boonop is dit so mooi jy is byna te bang om die pragstuk te bederf.

Die sjokolademousse met stukkies sjokolade en die nie-te-soet vanielje- panna cotta met grenadella-coulis is besonders.

In pas met die tema van die restaurant is daar slegs Suid-Afrikaanse wyne op wynlys. Vir wyn per glas sal jy tussen R16 en R22 betaal.

Die pryse is oor die algemeen billik en vergelyk goed met dié van enige familierestaurant, terwyl jy by Ikhaya heelwat meer styl en afronding kry.

Dit is ’n plek waar mens spesiale mylpale soos ’n bevordering kan vier, verduidelik Du Croq, wat jare se ondervinding in die bedryf het.

Die restaurant is nie groot nie (daar kan 50 mense op ’n slag eet) en die hoekies en draaitjies sorg vir ’n intieme ervaring.

Du Croq glo die algehele ervaring, vandat jy by die deur instap, is wat ’n restaurant suksesvol maak.

Ikhaya is van Dinsdae tot Vrydae van 11:00 tot 21:30 oop en op Saterdae en Sondae van 11:00 tot 22:00. Skakel 083 527 2645.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom