Maandag 21 April 2014
Tuisblad / Nuus / Metro se planne met parke

Die opgradering van die Hasiepark in Benoni sal eers oor ongeveer tien jaar voltooi wees.

Só sê die DA-raadslid Gerhard Kriek oor die werk wat by die park gedoen word.

Dié opgradering is deel van die Ekurhuleni-metroraad se projek om bestaande parke op te gradeer en nuwe parke te ontwikkel.

Kriek sê die opgraderingsproses by die Hasiepark vorder tot dusver goed.

“Fase twee is amper klaar. Fase drie en vier sal dan meer op die ingange fokus,” verduidelik hy en sê fase twee behoort teen Maart voltooi te wees.

Volgens Kriek was die taxi’s wat voor die park parkeer het ’n groot probleem, maar daaraan is ook aandag gegee.

“Ek het met die metropolisie vergader en alles is nou onder beheer. Daar mag nie meer as vier taxi’s op ’n slag staan nie en hulle mag die mense net sekere tye van die dag op- en aflaai,” sê hy.

Kriek sê ook die DBV het gehelp om siek hasies van kant te maak. Die oorblywende hasies sal ook nie meer die hele park vol hop nie, maar in ’n spesifieke area in die park aangehou word.

Gideon Strydom, bestuurder van die park, sê hulle hoop om vroeg volgende jaar gras te plant, maar die hasies moet eers almal gevang en in die afgebakende gebied geplaas word. Hy sê daar is sowat 2000 hasies in die park.

Tot dusver is die braaigeriewe opgegradeer en nuwe plaveisel gelê. Volgens Kriek sal die watervalle ook binnekort weer in ’n werkende toestand wees.

Sam Modiba, woordvoerder van die Ekurhuleni-metroraad, sê sowat R26 miljoen is begroot vir die opgradering van parke in die metro. Nog parke wat opgegradeer sal word, is die Bokkiepark in Boksburg, Blesbokspruit, die Boksburg- en die Germistonmeer.

Volgens Modiba sal die Germistonmeer gesluit wees tot April, wanneer die opgraderings daar na verwagting voltooi sal wees.

“Die metroraad is ook besig om planne te oorweeg vir die opgradering van Murray-park in Springs en die park sal ook gesluit wees tydens die feestyd,” sê Modiba.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom