Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Artikels / Gerhard opgewonde oor nuwe album

Gerhard Odendaal is veral bekend vir sy rol as Vaatjie in die televisiereeks Molly en Wors. Charlea Sieberhagen het uitgevind wat hy vir Kersfees wil hê.

Hoe lank woon jy al aan die Oos-Rand?

Ek bly so te sê al my lewe lank aan die Oos-Rand. As ek sê hoe lank, gee ek my ouderdom weg. Mense skat my jonger, so ek hou dit so.

Waar woon jy tans?

Ek bly tans in die Kempton-gebied.

Waar was jy op skool?

Ek was in die Laerskool Jeugpark en in die Hoërskool Birchleigh.

Waar kom jou belangstelling in toneelspel vandaan?

Ek het begin drama doen op die ouderdom van drie. Ek dink ek is met dié liefde gebore.

Wat geniet jy die meeste van toneelspeel?

Ek moet sê as ek speel, ontspan ek en gee iets van myself oor aan die gehoor. Al is dit net om hulle te laat lag of te laat ontspan vir daai ruk. Dit verskaf vir my groot plesier.

Wat weet niemand van jou nie?

Iets wat die mense nie weet nie? Sjoe, ek droom daaroor om ook ’n bussie te hê wat ek kan brand en mee kan rondtoer.

Waar hou jy graag vakansie?

Ek probeer op verskillende plekke vakansie hou. Ek hou daarvan om die wêreld te sien.

En hoe oud is jy regtig?

Hoe kry ek nou die vraag! Ek is 30, maar die mense daar buite kan maar aanhou glo ek is 26. Dit laat my goed voel.

Wat wil jy vir Kersfees hê?

Ek vra nie veel vir Kersfees nie, net om die dag saam met my familie te wees. Ek weet dit klink miskien snaaks, maar my grootste geskenk gaan die uitdrukking op my kind se gesig wees as sy haar eerste Kersgeskenkie van my af oopmaak.

Kan jy regtig kosmaak soos Vaatjie?

Ek kan kook ja. Ek kan verskeie goedjies maak. Maar glo my, bak is nou nie my sterkpunt nie.

Wat van 2012 sal jou altyd bybly?

Die 17de Januarie is die dag wat ek langs my pragtige vrou, Chantell, gestaan het toe sy ons eersteling, Micaela, in die wêreld gebring het. Dis iets wat ek nooit sal vergeet nie.

Waarna sien jy uit vir 2013?

Ek het aangesluit by ’n nuwe agentskap en ons is besig om te werk aan my tweede album. Ek kan nie wag om dit vroeg in 2013 op te neem nie. Daar gaan minstens sewe oorspronklike snitte op wees.

Enige nuwejaarsvoornemens?

Ek wil gesonder leef en graag deur die land toer. En by al die klein dorpies gaan kuier met my nuwe CD wat vroeg volgende jaar uitkom.

Gunsteling-fliek?

Bly maar Top Gun.

Gunsteling-liedjie?

The Story van Brandi Carlile.

Wat maak jou gelukkig?

Geluk is al die seëninge in die wêreld.

Wat maak jou kwaad?

As mense nie die son oor ander kan laat skyn nie.

Wat is jou gunsteling-Kersfeesherinnering?

Die dae toe my oupa Hansie nog gelewe het en die dinge wat ons in die Kerstyd gedoen het. My oupa het ’n groot groentetuin gehad.

En elke jaar het ons dít wat te veel was opgemaak in sakkies en voor die deure gaan sit van die mense wat dit regtig nodig gehad het. En dít mis ek baie.

Ek sal wat wou gee om dit weer te kan doen.

As jy vir een ding kon wens, waarvoor sou dit wees?

My wens is dat elk van die lesers die beste Kersfees ooit sal hê en dat 2013 die beste jaar ooit mag wees en dat elke huis volgende jaar ’n Vaatjie-CD in die CD-speler sal hê.

Waar aan die Oos-Rand doen jy graag inkopies?

Ek doen inkopies waar die pryse laag is.

Wat is die beste raad wat jy al ontvang het?

Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself wil gedoen hê nie. Dit sluit nou in as ek nie iets goeds kan sê nie, probeer ek maar stilbly.

En watter raad sal jy graag wil uitdeel?

Waardeer wat jy het. Mens besef nie altyd wat mens het voor dit te laat is nie.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom