Die Hoërskool Jeugland in Kempton Park het R26 000 aan Solidariteit Helpende Hand se skooltassie-projek geskenk.
Sowat 70 geskenkpakkies is ook deur die personeel geskenk vir die skoendoosprojek. Vir dié projek moes elkeen ’n skoendoos pak met onder meer ’n tandeborsel, waslap, opvoedkundige speelding, skryfbehoeftes en ’n Bybel.
Lindie Strydom, die bemarkingsbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, en Adele Kruger, die streekorganiseerder in Gauteng-Suid, het die geskenkpakkies en geld in ontvangs geneem.
“Daar is vanoggend ’n knop in my keel, want julle het my wildste drome oortref,” het Strydom, wat bekend is om haar rol as Karin in die sepie Egoli, gesê.
“Wanneer daardie kinders die skooltassies ontvang, gee ons vir hulle ’n gelyke kans. Dan is daar niks wat hul roeping en drome kan pootjie nie,” het sy gesê.
Die skooltassieprojek plaas ’n tassie met al die nodige skryfbehoeftes in ’n behoeftige gr.1-leerling se hand.
“Dit word nou ’n bestaande projek by die skool en ons gaan ook volgende jaar saam met Lindie aan die kosblikkie-projek deelneem,” het Deriza Beresford, ’n onderwyser en organiseerder van die projek, gesê.