Leerlinge van die Tersia King Learning Academy in Tembisa het dié week hul laaste voorbereidings gedoen vir The First Lego League-kompetisie wat Saterdag by Sci-Bono in Newtown, Johannesburg plaasvind.
Die skool se Sci-Bono Shosholoza- en Sci-Bono TKLA-spanne het deurgedring om aan dié nasionale kompetisie deel te neem.
Deelnemers aan die kompetisie bou en programmeer robotte met Lego wat verskillende opdragte in twee en ’n half minute moet uitvoer. Die kompetisie behels verder dat spanne navorsing en ’n mondelinge voorlegging doen, kernwaardes verduidelik en by ’n gemeenskapsprojek betrokke is.
“Ons het baie hard gewerk en glo ons kan ver kom in die kompetisie,” het Nonnkinhia Sidu, ’n gr. 10-leerling en lid van Sci-Bono Shosholoza gesê.