Donderdag 24 April 2014
Hamburgers saam met die ou van Top Gun
2012-11-28 15:50
Hamburgers saam met die ou van Top Gun
Charlea Sieberhagen
Opgelaai deur:
Charlea Sieberhagen
Tema: Koes! Ek kook...

Ek ken net die woorde van die musiek omdat ek graag Glee kyk.


Ons eet hamburgers. Winkelpatties en winkel-rolletjies. Maar tuisgemaak. En ons luister na treffers uit die tagtigs. Eintlik kyk ons daarna. Goed gesing en uitgevoer deur Tom Cruise en ’n spul akteurs wat ek nie ken nie, maar seker van behoort te weet.

Ek moet egter bieg. Ek ken net die woorde van die musiek omdat ek graag Glee kyk. Nie omdat ek ’n cool kenner van tagtigs rockmusiek is nie. Ja, ek laat sak my kop in skaamte.

En terwyl ek my kop in skaamte laat sak besef ek daar is twee dinge waarvan die mensdom seker nooit genoeg sal kan kry nie.

Kos en musiek.

Om sonder een van dié twee te leef is byna ondenkbaar.

Wat troos beter as ’n stafie sjokolade? Wat vier lekkerder verjaarsdag as ’n stuk koek? Wat is meer gesellig as ’n braaivleisvuur met boerewors? Wat bederf soos ma se kookkos?

Dink maar net aan al die duisende resepteboeke. Die verskeidenheid kosmaak-programme. Die kosmaak-kanale! Die beroemde sjefs. En in jou eie kombuis kan jy speel-speel die Master Chef wees. Selfs al kook jy net ’n eier.

En dan is daar natuurlik die herinneringe wat saam met die kos kom.

In ons huis is dit potjiekos-nuwejaars en hoender-op-die-spit-Sondae. Boontjiesop-winters en in ons dae van tennislesse was dit pap-en-wors-Maandae want dit was die vinnigste.

Met Kersete by die see kreun die tafel gewoonlik onder allerlei slaai en koue vleis. En nagereg kan wissel van trifle tot kaaskoek of peppermint crisp-tert. Of sommer alles gelyk. Desember-vakansies word gedefinieer deur blou-huisie-roomys en mini donuts.

Maar net soos ek my hele lewe deur spesiale “kos-oomblikke” kan onthou, is daar ook die herinneringe wat saam met musiek gepaard gaan.

O, die nostalgie as Onder draai die duiwel rond se temalied deesdae weer op SABC 2 speel. Of as ek in die gimnasium na 30 Seconds to Mars luister. En as ek saam met Taylor Swift in die kar sing oor haar vergete serp sal ek altyd die Jakarandas se pers in 2012 onthou. Werk toe en terug. Of Don’t stop believin’ wat my herinner aan goeie tye saam met lekker mense in my honneursklas.

Jy sing nie net saam nie. Jy luister nie net nie. Jy onthou. Jy verlang. Jy leef terug na die dae waaraan die lied jou herinner.

En hoor jy ’n nuwe lied, proe jy ’n nuwe gereg maak jy nuwe herinneringe, gaan die lewe vorentoe. Begin ’n nuwe hoofstuk.

So is dit nou amper-amper vakansie. Amper Kersfees. Tyd vir die feesseisoen. Met kos en musiek, gewaarborg. Ook hier in die woonstel waar ons hamburgers maak en na treffers uit die tagtigs luister. Goed gesing deur “die ou van Top Gun”.

facebook
twitter
img
img
img
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom