Woensdag 16 April 2014
Tuisblad / Nuus / Transnet-pensioen: Hofdatum kom dalk

Hoewel vordering gemaak word, blyk dit die dilemma waarin Transnet-pensioentrekkers hulle bevind, sal nie binnekort iets van die verlede wees nie.

Die nagenoeg 66 143 lede van dié fonds kry ’n jaarlikse verhoging van slegs 2% en baie het heeltemal verarm.

Volgens adv. Anton Alberts, wat die saak namens die pensioentrekkers bestuur, word daar wel gevorder in die proses om druk op die regering en Transnet te plaas “om hul verantwoordelikhede na te kom”.

Alberts het sowat 130 gaste op ’n onlangse algemene jaarvergadering van die Silwer Springbokke, ’n klub vir afgetrede lugdienspersoneel, in Kempton Park toegespreek.

Alberts het die fonds se geskiedenis breedvoerig verduidelik en gesê die regering en Transnet het hul vertrouensverhouding met die pensioentrekkers verbreek en hulle “vir die wolwe gegooi”.

“Die trustees van die fonds het nie in julle belang opgetree nie en baie beloftes is nie nagekom nie,” het hy gesê.

Volgens Alberts het die regspan die inligting vir ’n sterk saak en hulle behoort teen vroeg volgende jaar aansoek te kan doen om ’n hofdatum.

Pensioentrekkers maak die saak aanhangig as ’n klas ingevolge ’n groepsgeding (klasaksie). ’n Inflasie-gekoppelde jaarlikse verhoging, asook die versterking van die fonds deur ’n inbetaling van R17,4 miljard, maak deel uit van wat in die hof van Transnet en die regering geëis sal word.

“Dit is baie moeilik om te skat wanneer alles afgehandel sal wees, maar ’n konserwatiewe skatting dui op volgende jaar dié tyd,” het hy gesê.

Die span is bewus dat tyd teen die proses tel omdat die fonds daagliks lede aan die dood afstaan, het Alberts gesê.

Heinz Kutzner (81), ’n Transnet-pensioentrekker van Kempton Park, het aan Oos-Rand-Beeld gesê hulle sal positief bly, al is hulle bekommerd en hulle wens die saak is afgehandel.

“Daar is baie mense wat baie swaarkry. Ons is dankbaar vir alles wat gedoen word om ons saak te beredder.”

Fanie du Plessis (74) sê die hele aangeleentheid kom al van 2009 en hulle is steeds in dieselfde bootjie. “Die saak sloer om politieke redes. As dit nie was dat ek ná my aftrede in 1986 my eie besigheid begin het nie, sou dit vandag met my baie sleg gegaan het.”

Om by te dra tot die koste van die saak kan jy “Transnet” SMS na 49015. Só skenk jy R15.

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom