Woensdag 16 April 2014
Tuisblad / Artikels / Maak leë vakansiedae vol

Die somervakansie is om die draai. Vir dié wat hulself in Jan Tuisbly se karretjie bevind, is daar steeds baie om te doen. Charlea Sieberhagen het aan ’n paar idees gedink.

Pak ’n piekniekmandjie

’n Piekniek bly maar net lekker. Of dit nou in ’n park, ’n tuin of in jou agterplaas gehou word, jy sal vir seker ontspan.

Dink kreatief wanneer jy die mandjie pak. ’n Pak koekies is altyd ’n treffer. Kaas en beskuitjies, toebroodjies en vrugte werk ook goed. Onthou, wat ook al saamgaan, moet goed verpak word sodat dit nie ’n groot gemors is as jy jou bestemming bereik nie. Onthou eetgerei, borde, glase en ’n nat lappie.

Moet ook nie die lekker groot kombers vergeet nie. En vat ’n boek as jy beplan om die hele middag in vrede deur te bring of ’n bal as die kinders saamgaan.

Piekniekplekke aan die Oos-Rand:

  •  Modderfontein-natuurreservaat;
  • Gillooly’s Farm in Bedfordview;
  • Bokkiepark in Boksburg;
  • Boksburgmeer; en
  • Die Rondebult-voëlpark in Germiston

Boksburg se “see”

Wie het gesê jy kan nie dié somer in die water staan terwyl golwe oor jou voete spoel nie?

As jy nie die see hierdie Desember gaan sien nie, is Wild Waters in Boksburg die antwoord. Dié park bied ’n wye verskeidenheid waterpret en lowergroen gras. Daar is selfs ’n mini-gholfbaan en braaigeriewe. Ideaal vir ’n warm sonskyndag.

Toegangsgeld beloop R160 per persoon vir volwassenes en kinders ouer as agt jaar. R60 vir kinders van twee tot sewe jaar.

Versier kolwyntjies

Bietjie moeite vir ma, hope pret vir die kinders.

’n Baksel kolwyntjies, verskillende kleure versiersuiker en ’n verskeidenheid sjokolade en jellie-lekkers kan vir ure se suikersoet-kreatiwiteit sorg.

Skep die versiersuiker in verskillende bakkies, gooi die lekkers uit in houers en laat die kinders die kolwyntjies na willekeur versier.

Leer meer oor lugvaart

Besoek die Suid-Afrikaanse lugvaartmuseum by die Randse lughawe in Germiston.

Die museum bevat historiese foto’s en vlieginstrumente. Belangrike dokumentasie word ook hier uitgestal. En as jy dink ’n museum is maar ’n vervelige plek, moet jy weer dink want hier kan jy jou vergaap aan die afgetrede vliegtuie wat buite die museum staan.

Die museum is oor naweke en op openbare vakansiedae van 09:30 tot 14:00 oop. As jy hulle op ’n weekdag wil besoek, moet jy ’n afspraak maak. Toegangsgeld is R25 vir volwassenes en R15 vir kinders.

Speel met verf

Verfbal (paint ball) is net die ding vir dié wat hou van iets energieks en opwindends. Dis ’n gehardloop, wegkruipery en ’n geskietery dat die verf spat. Dit kan ook nogal pynlik wees, maar dis deel van die avontuur op die verfbal-veld. Dit is immers ’n adrenalien-sport.

Spelers word verplig om beskermende klere en maskers te dra en geen kinders onder 10 jaar word toegelaat nie.

Paintball City in Germiston bied ook braaigeriewe.

Dit kos sowat R50 om ’n masker, geweer en oorpak te huur. Dis R45 vir 100 verfbal­letjies en R80 vir 200. As ­Germiston te ver is, gaan maak ’n draai by Paintball Range in Noordrandweg in Boksburg.

Hou ’n skattejag

Min dinge is so opwindend soos ’n skattejag. Menige televisieprogram is gegrond op die gejaag en avontuur wat saam met dié soort speletjie gaan.

Jy kan dit so moeilik of maklik, lank of kort maak soos wat jy wil. En die prys aan die einde hoef nie eens groot te wees nie, die soektog is mos die eintlike pret.

Die skattejag-webblad www.treasurehuntclues.org gee wenke oor hoe om interessante raaisels en speletjies saam te stel. Van agterstevoor-skrif tot boodskappe in morsekode word stap-vir-stap verduidelik.

Vakansie aan die rol of op die ys

Die Oos-Rand se enigste ysskaatsbaan is by die Festival Mall in Kempton Park.

Toegang kos R50 en R20 om skaatse te huur.

Daar is ook ’n skaatsbaan by dié inkopiesentrum. As jy dus nie jou vaardighede op die ys wil toets nie, kan jy altyd met ’n skaatsplank of rolskaatse opdaag. Vir R30 kan jy drie uur lank die skaatsgeriewe gebruik.

Hou ’n fliek-aand in die sitkamer

Maak bakke vol springmielies, melkskommels en braai boereworsrolle.

Neem ’n ou gunsteling of nuwe fliek uit en nooi ’n paar vriende om saam te kuier. Om koste te bespaar kan jy elkeen vra om iets saam te bring.

Gooi jou hande in die lug en gil

As jy effens suid ry uit die Oos-Rand, sal jy net duskant Alberton ’n groot wiel sien draai.

Vir ’n dag vol helder kleure, adrenalien en weergalmende gille is Gold Reef City se pretpark net die plek. Jy kan na ’n 4D-vertoning van seerowers gaan kyk en Dr. Doolittle se plaas besoek om die diere te gaan vryf.

Toegangsgeld is R160 per persoon of R124 per persoon vir ’n gesin van vier.

Voordat jy geesdriftig in jou kar spring en die heelpad ry, besoek www.goldreefcity.co.za om te sien watter ritte beskikbaar is en of die park oop is.

Maak jou eie speelklei

Bestanddele

3 koppies koekmeelblom

6 teelepels kremetart

3 koppies water

1½ koppie sout

3 eetlepels olie

Voedselkleursel

Metode

Meng die meel, kremetart en sout in ’n swaarboompot.

Voeg die water en olie by en meng baie goed.

Verhit die mengsel oor lae hitte en roer af en toe totdat die mengsel van die kante af wegtrek.

Haal die klei uit die pot en knie saam met die koekkleursel van jou keuse.

Plaas in ’n lugdigte houer.

Verwante Artikels
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom