Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Brakke baljaar in Brakpan

Twee honde in Brakpan het saam met hul hondemaats baljaar tydens ’n spesiale honde-partytjie.

Elize Steytler (31) het onlangs vir haar twee pekinees-honde, Chloë en Snowy, ’n verjaardagpartytjie gehou.

Verlede jaar het sy vir Chloë ’n verjaardagpartytjie gehou, maar vanjaar het die gesin vir Snowy bygekry en toe besluit Steytler om vir dié twee brakke saam ’n partytjie te hou met ’n liewensheersbesie-tema.

Ses ander honde vier pekinese, ’n mopshond en ’n worshond het die partytjie saam met hul eienaars bygewoon.

“Ons het hulle almal ontmoet deur Brakpan se DBV en Pug Rescue,” vertel Steytler.

Sy sê die honde het mekaar aan die begin beruik en met mekaar gespeel. Die honde was nie bakleierig nie.

“Hulle het dit vreeslik geniet,” meen sy.

“Ek het begin met die uitnodigings wat klein legkaarte in ’n organza-sakkie was,” vertel Steytler en sê Snowy en Chloë het in spesiale rokkies partytjie gehou.

Sy het ’n spesiale koek vir die honde gebak.

“Ek het die resep van die internet af gekry. Dit was ’n grondboontjiebotter-heuning-en-wortelkoek.”

Elke hond is deur ’n mobiele hondesalon gepamperlang en het ’n emmertjie vol honde-lekkernye gekry.

Die eienaars het egter hul eie partytjie gehou met vingerhappies.

“Daar was ook verskillende speelgoed vir die honde ’n klein swembad, ’n houer vol plastiekballe, ’n tonnel en ’n boks vol sagte speelgoed,” sê Steytler.

Dr Quixi Sonntag, ’n dieregedrag-spesialis aan die Universiteit van Pretoria meen egter die honde weet nie regtig waaroor die partytjie gaan nie.

“Maar hulle geniet die aandag en die samesyn met mense baie,” sê sy.

“Ek glo nie dit het inherente waarde nie, maar dit is wel voordelig omdat dit aanleiding gee tot positiewe mens-dier-interaksie. Honde is immers bedoel om mense se metgeselle te wees.”

Sonntag sê enigiets wat honde meer interaksie met mense laat hê, is vir hulle lekker en gewoonlik ook goed vir hulle.

En wat is ’n partytjie dan sonder presente?

Chloë en Snowy is bederf met klere, speelgoed, nuwe beddens, kospakkies en geld.

Steytler meen daar sal beslis nóg so ’n makietie wees. “Dit is nou ’n jaarlikse instelling,” sê sy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom