Tuisblad / Nuus / ‘Hartstorie’ aan Oos-Rand verfilm

Die laaste toneel van die Afrikaanse fliek Hartsbegeertes is onlangs verfilm tydens ’n glansgeleentheid by Little Paradise in Springs.

Dié fliek waarvan die meeste tonele in Benoni, Kempton Park en Springs verfilm is, word beskryf as ’n fliek met ’n boodskap van “hoop, geloof en liefde”.

Angelique Gerber wat in Springs grootgeword het en Renier Weideman van Benoni vertolk hoofrolle in die fliek. Weideman was ook die draaiboekskrywer.

Bekendes soos die nuusleser JP Keyter, die sangers Richard van der Westhuizen, Izak Davel en Ghapi en aktrise Liane Heyl speel ook in die fliek.

“Dit was groot pret,” het Gerber oor haar ervaring gesê.

“Ek het elke dag so daarna uitgesien om saam met die mense te werk. En wanneer ek nié daar was nie het ek hulle gemis. Van die produksiespan tot die mense wat kos gemaak het.

“Ek was verskriklik op my gemak. En dit het regtig gevoel of die mense in my glo, ek hoef myself nie te bewys nie.”

Volgens Gerber het die span gedurig met mekaar grappies gemaak.

Gerhard Ehlers van Benoni wat ook in die fliek speel, meen gehore kan ’n “mense-storie” verwag.

“Dis op die man af. ’n Eerlike, oop hartstorie,” het hy gesê.

Die regisseur van die fliek, Willie Olwage van Springs, het gesê hy is opgewonde oor die fliek.

“As jy die draaiboek vergelyk met dit wat nou op film vasgelê is, is dit fantasties om te sien hoe die storie gedaante gekry het.

“Die laaste afronding vind nou in die redigeringsproses plaas.”

Verwante Artikels
  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 14° - 25° icon
PTA 3° - 18° icon
JHB 2° - 17° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 11° - 25° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs