Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / Mynwater: stappe nóú nodig

Die departement van waterwese het ’n dringende aansoek ingedien om die krisis van suur mynwater te takel vóór die vereiste omgewingsimpakstudie.

Openbare vergaderings is onlangs in Springs, Germiston, Randfontein en Vanderbiljpark gehou om die publiek van die aansoek in kennis te stel.

Stappe om die vlakke van suur mynwater te verlaag is om dit uit skagte te pomp, te behandel en in spruite te stort.

Die behandelde water sal egter steeds ’n hoë soutinhoud hê en nie geskik wees vir menslike gebruik nie. (Lees die kassie.)

As die departement van waterwese se aansoek slaag, sal met konstruksie van onder meer behandelingsaanlegte by die Grootvleimyn in Springs en East Rand Proprietary Mines in Germiston begin word voordat ’n omgewingsimpakstudie gedoen is van die ingryping soos deur die omgewingswet vereis word.

“Toestemming moet dringend verkry word vir die korttermyningryping sodat die uitpomp-proses kan begin,” lui die raadgewende ingenieurs, BKS, se motivering vir die aansoek.

Konstruksie van infrastruktuur vir die uitpomp en behandeling van suur mynwater vir die oostelike kom (Boksburg, Brakpan, Springs en Nigel) kan tot 18 maande neem. Vir die sentrale kom (deels Oos-Rand en deels Johannesburg) kan dit tot tien maande neem.

Dít terwyl daar geraam word dat die kritieke vlak van suur mynwater (wanneer dit grondwater besoedel) in die oostelike kom teen Junie 2014 bereik sal word en dié in die sentrale kom reeds teen Junie volgende jaar. Daar word geraam dat die water teen ’n koers van 0,32m per dag styg.

“Die korttermynplan is nie die ideaal nie,” het Sean O’Beirne, waarnemende omgewingshoof van die Trans-Caledon Tunnel Authority, gesê. “Maar om niks te doen nie sal veel ernstiger gevolge hê.”

Dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), het gesê daar moes 20 jaar gelede al iets gedoen gewees het aan wat nou ’n “katastrofe” geword het.

“Ons dring daarop aan dat ’n koste-analise gedoen word van die impak wat die hoë soutlading in die water op die omgewing en die belastingbetaler sal hê,” het Mariette Liefferink, hoof van die FVO, gesê.

Die departement het in sy motivering gesê hy verbind hom tot ’n volledige omgewingsimpakbepaling vir alle aktiwiteite wat met die langtermynoplossing van die probleem van suur mynwater verband hou. Daarby ingesluit is die bepaling van die impak van die implementering van die korttermyningryping.

Verwante Artikels
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom