Sedert Oos-Rand-Beeld in Maart berig het oor die “kitsghetto’s” in Kempton Park se middestad het nog niks verander nie.
Volgens die DA-raadslid Jaco Terblanche is hy weekliks in kontak met die metroraad oor dié saak.
“Nog niks het gebeur nie. Alles is presies soos dit was,” sê Terblanche.
Hy sê hy het die huise sowat twee weke gelede besoek.
By van die huise is nagenoeg 100 kamers aangebou. In elke kamer woon twee tot drie mense en dié moet kosmaak in die kamers, wat bietjie groter as ’n dubbelbedmatras is.
Volgens Terblanche neem dwelmhandel veral in dié gebied toe.
Die Ekurhuleni-metroraad het in Mei kennisgewings gestuur aan eienaars van onwettige spazawinkels in die middestad. Luidens die kennisgewings was dié winkels ver- onderstel om binne 21 dae te sluit. Terblanche meen daar het ook nie veel daarvan gekom nie.
“Die spazawinkels was in die dag toe, maar het in die aand handel gedryf. Hulle het geweet die Ekurhuleni-metropolisie sal hulle nie in die aand sluit nie,” sê Terblanche.
Hy sê verder besigheid gaan voort soos voorheen.
“Die probleem sal nie uitgesorteer word as die metroraad nie verantwoordelikheid vir munisipale regulasies aanvaar nie.
“Wat my bekommer is dat die metroraad geen mag het nie. En die gemeenskap weet dit. Veral in die middedorp.”
Terblanche hoop daar sal teen einde Februarie vordering gemaak word.
Die Ekurhuleni-metroraad het nie gereageer op Oos-Rand-Beeld se navrae oor die onderskeie sake nie.