Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Die lewe langs die groot tent

Akrobate, diere en springmielies. Die McLaren-sirkus besoek tans die Oos-Rand. Charlea Sieberhagen het gaan kyk wat agter die tuinflappe aangaan toe hulle Kempton Park besoek het.

’n Seuntjie staan agter die traliehek van die woonwa. Hy skaterlag en trek aan die tralies wat keer dat hy nie van die trappie afval nie.

Die een-jarige Deacon hou sy pa stip dop.

“Eendag gaan hy óók perform,” merk Duncan McLaren op.

“Ons is een groot familie,” sê hy terwyl ons verby die woonwaens stap. Verby die akrobate van Zimbabwe se vragmotor. Verby die Chinese seuns wat in hul woonwa lê en na buite loer. Verby die kamele, die ponies, die boerbokke en die leeus se speelhok. Verby die dansende poedels.

“Soms baklei ons. Maar daar is ook baie vreugde. Trane. The show must go on,” sê Duncan, wat saam met sy broer, David, die McLaren-sirkus in 2005 begin het.

“Ons móét saamwerk. Ons is 24 uur ’n dag bymekaar,” vertel hy.

Van kleins af het dié twee broers gedroom van hul eie sirkus.

Die sirkus het dikwels naby hul huis in Vereeniging gestop. Duncan het vir die eerste keer saam met sy oupa die sirkus bygewoon.

“Ons het maar net altyd geweet dís wat ons wil doen. Ons leef ons droom,” sê hy en vertel hulle het jonk reeds begin om toertjies te doen en mense te vermaak. Hulle het by kinderpartytjies opgetree en later as straatkunstenaars in Kaapstad gewerk totdat die sirkus hulle op die paaie van Suid-Afrika geneem het.

Hulle kyk nie terug nie, maar Duncan erken dis nie altyd maklik nie.

“Dis ’n leefstyl en jy moet daaraan gewoond raak. Daar is nie altyd lopende water nie, daar is nie altyd elektrisiteit nie. Jy leef in beperkte ruimte,” vertel hy waar hulle vandag weer op die rugbyveld van ’n hoërskool staan.

Tydelike toilette staan eenkant. Die groot tent is hul wasplek.

In die kaartjiekantoor hang ’n almanak. Krugersdorp, Hatfield, Kempton Park, Springs, Brakpan. Plekke wat al besoek is. Plekke wat nog kom. Vol geskryf. Die hele land vol gereis.

“Binne drie uur slaan ons die tent af, dan pak ons alles op, en ons is weg,” vertel Duncan en sê goeie beplanning is die sleutel tot lewe in die sirkus.

“Jy moet weet waarheen jy gaan.”

Ses maande voor die tyd weet hulle al in watter rigting die wind hulle volgende gaan waai. En wanneer alles opgepak is en dit tyd is om aan te beweeg, reis hulle in die nag. Want met soveel vragmotors, diere en woonwaens is dit net praktieser.

Die diere is David, die ringmeester, se passie, maar hy sê dis ook die uitverkoopte kaartjies en die glimlagte op kinders se gesigte wat hom aan die gang hou. “Of jy hoor ’n volwassene sê hy was vir daardie paar minute weer kind,” sê David.

Nie David óf Duncan is bekommerd oor die toekoms van sirkusse nie. Hulle glo in P.T. Barnum se sêding: “Solank daar kinders is, sal daar ’n sirkus wees.”

“Dis die reuk van springmielies en gaskoeldrank. Geen van die kunstenaars is meer as 20 meter van jou af weg nie,” sê Duncan.

“Ons verander elke jaar ons vertoning. Dis belangrik om nuut te bly en saam met die tye te verander, maar ons bly tradisioneel. En die mense hou aan terugkom.”

Die liggies bo die tent gaan aan. Mense begin in die ry staan met kardoese vol springmielies, merkbaar opgewonde oor wat agter die tentflappe wag.

Maar wat van Deacon? Wat gebeur wanneer hy moet skooltoe gaan? Duncan sug.

“My vrou vra my dít elke dag.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Ekurhuleni se snelbusdiens
Sal jy Ekurhuleni se snelbusdiens gebruik?
Ja
Nee
Dalk
Ek loop eerder...
top
bottom