Artikels / Borskanker maar net een van haar uitdagings

Die skraal vrou in die verpleegsters-uniform lag maklik en haar oë blink.

Ons is veronderstel om oor kanker te praat, maar hoe langer Sharon Britz (41) gesels, hoe meer besef ’n mens dat ’n wonderwerk voor jou sit.

Borskanker is in April verlede jaar by Britz gediagnoseer, ’n paar dae na haar 40ste verjaardag.

’n Mammogram tydens haar jaarlikse ondersoek het ’n gewas gewys en ’n tweede is met ’n sonar opgespoor. Sy het ’n dubbele mastektomie ondergaan en vir agt en ’n half maande chemoterapie ontvang. Sy gebruik steeds medikasie.

Om ’n pasiënt te wees is egter nie vir Britz vreemd nie.

Dertien jaar gelede sy was maar 27 was sy ná ’n ongeluk aan diens twee jaar lank bedlêend.

Destyds was sy ’n nooddienswerker en is uitgeroep na ’n brand by ’n fabriek in Boksburg.

“Ek kan niks onthou nie, maar mense vertel die ontploffing het my 15m in die lug in opgeskiet. Daar was omtrent nie ’n been in my lyf wat nie gebreek was nie.”

Britz sê haar 15-jarige dogter, Bonné, noem haar “Robo-mom”, want plate en skroewe hou haar lyf bymekaar. Selfs haar nek en rug was gebreek. Sy moes ook ’n knievervanging ondergaan.

“Ek was seker 40 keer in en uit die hospitaal.”

Sowat ’n maand voor die ontploffing is die fabriek beboet weens vir die berging van onwettige vlambare vloeistowwe. Die fabriek is intussen gesluit.

In 2005 is Britz uit diens gestel omdat haar prognose was dat sy vir die res van haar lewe in ’n rolstoel sal wees. Vandag loop sy en verpleeg nou by dokterspreekkamers.

As gevolg van haar allergie vir pynstillers dra sy ’n “pyn-masjien” binne-in haar lyf wat sy met afstandbeheer beheer.

“Ek het elke dag pyn, maar ’n mens leer om daarmee saam te leef. Ek sukkel om aan en uit te trek en kan nie eens fietsry nie.”

Britz kén egter ook emosionele pyn.

Op ’n doodgewone Maandagoggend, sewe maande voor die ontploffing, het sy op die lyke van haar ma en stiefpa afgekom toe sy Bonné (toe vyf en ’n half maande) by hulle in Kempton Park gaan aflaai voor sy werk toe sou gaan.

Dit was kopskote.

Haar ma was maar 47 en haar stiefpa 54.

Hoe verwerk mens soveel trauma en hartseer?

“Daar was moeilike tye,” erken Britz.

“Met die ontploffing het ek baie keer gedink ‘as my ma net hier was’. Ek het soms gebid dat ek die volgende dag nie sal wakker word nie.

“Die moordsaak is vir ons nog ’n duistere saak. My stiefbroer (15) is destyds gevonnis, maar ons wonder steeds wat presies daardie dag gebeur het. Alles klop nie. Ek glo die Here weet en die waarheid sal eendag uitkom.”

Britz is ’n jaar ná die ontploffing geskei en nog ’n jaar later is haar pa in ’n motorongeluk oorlede.

Wat het haar deur dié moeilike tye gedra?

“My geloof. En Bonné. Sy is my rede om aan te gaan, my inspirasie,” sê sy.

“Ek was die Sondag by my ma-hulle voor hulle die volgende dag vermoor is. Sy het aangebied dat Bonné sommer oorslaap, dan hoef ek haar nie die Maandagoggend voor werk te kom aflaai nie.

“Iets het net vir my gesê om dit nie te doen nie. Ek wonder dikwels wat sou gebeur het as sy in die huis was tydens die moorde...

“Ek het my geloof bevraagteken, maar tog glo ek die Here sal niks toelaat wat ek nie kan hanteer nie. Daar is altyd iemand wat swaarder kry as jy.”

Britz sê sy het nog nooit gevra ‘hoekom sy’ nie.

“Ek glo nie dit is reg om dit te vra nie. Wat maak my beter as die volgende persoon, dat slegte dinge nie met my kan gebeur nie?”

Britz het intussen ’n ondersteuningsgroep begin vir mense wat ’n geliefde as gevolg van kanker aan die dood afgestaan het.

Sy is deeltyds by die Kankervereniging van Suid-Afrika betrokke en kuier gereeld in onkologie-afdelings om kankerpasiënte te ondersteun.

“As ek iemand kan help, is ek bly.”

Toe ons groet, sê Britz: “Mens moenie jou gevoelens ontken nie. Ek huil nog baie nagte as ek aan my ma dink. Ons is net mense.”

Verwante Artikels
  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs