Tuisblad / Nuus / ‘Hy doen niks, hy lê net’

Hy wou gou met sy fiets huis toe ry om sy ouers iets te vra.

Sekondes later het Luhan Groenewald (13) stukkend gelê in Springs se Ermelo-straat.

Die seun, wat volgende jaar hoërskool toe sou gaan, is weens die ongeluk in April met erge breinskade aan ’n hospitaalbed gekluister in sy ouerhuis.

“Ek haat haar nie,” het sy ma, Adèle (44), verlede week gesê oor die 33-jarige vrou wat hom raakgery het.

Dié se twee kinders was ook in die motor en sy is glo weens roekelose bestuur aangekla.

“Ek wil net nie in haar skoene wees nie om saam te leef met die wete dat ’n mens so ’n verskil in ’n kind se lewe gemaak het.”

Die Groenewalds kry swaar.

“Ons het dié dag vlooimark toe gegaan, maar Luhan het by maats gaan kuier. Hy het hand en mond belowe om uit die grootpad te bly,” het sy pa, Coenie (38), vertel.

’n Vriend het hulle later gebel oor die ongeluk. Luhan is voor sy maats omgery. Hy het eers die vrou se windskerm getref en daarna die sypaadjie met sy agterkop.

Luhan het glo ’n fietsryhelm, maar tipies tiener was hy nie te gretig om dit te dra nie.

Hy was twee maande lank in ’n koma. Dokters moes ’n deel van sy skedel oplig om drukking op sy brein te verlig.

Ná ’n tydperk in ’n rehabilitasie-hospitaal is hy huis toe gestuur.

Die Groenewalds het gehoor 70% van hul seun se brein funksioneer nie.

“Dit is asof iemand gesê het ‘dè, hier is jou kind’, maar hy kan niks vir homself doen nie, nie loop, eet of praat nie. Hy lê net,” het Adèle gesê.

Soms maak Luhan huilgeluide, maar sy moet probeer raai wat pla.

“Ons weet nie eens of hy ons herken nie.”

Net wanneer sy vir hom musiek speel, ontspan sy gesig en raak hy stil.

Sy skoolmaats het onlangs kom kuier en dit het Coenie se hart gebreek om te hoor hoe hulle beplan aan hul gr.7-afskeid.

Luhan kort eintlik ’n spesiale rolstoel wat sy kop regop kan hou, maar dié kos glo meer as R27 000, het sy ma gesê.

“Maar dit gaan nie net oor geld nie.

“Ek wens daar was iemand met wie ek kan praat, wat kan raad gee hoe om dinge beter te maak, wat my kan voorberei op wat om te verwag. ’n Mens breek binnekant.”

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 14° - 25° icon
PTA 3° - 18° icon
JHB 2° - 17° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 11° - 25° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs