Artikels / ’n Museum in ’n woonhuis

Willie Nel (69) se pa het vir die destydse departement van paaie gewerk en later jare brûe gebou. Die Nel-gesin het om dié rede baie getrek.

Dit was juis die nostalgie van die goedjies in ’n bliktrommel wat sy ma saam getrek het as hulle so van padkamp tot padkamp verhuis het wat die versamelgogga laat byt het, vertel Nel by sy huis in Boksburg.

En byt het daardie gogga goed gebyt.

Nel se grootmenspaaie sou later deur klein dorpies, townships, stortingsterreine en liefdadigheidswinkels loop in ’n ewige soektog na nog ’n kosbare item.

En steeds kan hy nie by ’n stalletjie of ’n liefdadigheidswinkel verbystap sonder om te snuffel nie, vertel sy vrou, Meisie. Sou hy iets raakloop wat hy nog nie voorheen teëgekom het nie, is dit ’n groot lekkerte.

Sy versamelings van onder meer munte, bottels, blikke, messe, kameras (hy het sowat 500), strykysters, flitse en sakhorlosies (tussen 300 en 400) is absoluut verstommend. Hy sê as hy die geld gehad het, het hy ’n museum gebou.

Daar is kaste met rookgoed, van sigaretdosies tot aanstekers, pype, vuurhoutjies en sigaretadvertensies. In nog ’n kas is alles verwant aan hare: oudtydse knippies, haarkammetjies, haartange. Daar is ook spaarbussies, kasregisters en grammofone.

“Ek sien myself as ’n bewaarder vir die nageslagte,” vertel Nel en sê dit is vir hom hartseer dat Afrikaners besig is “om hul kultuur te verloor”.

Hy sê by sy stalletjie by die Rosebank Mall se Rooftop Market, waar hy die afgelope vyf jaar elke Sondag uitstal, is dit buitelanders wat met die duur versamelstukke wegstap.

Dié stalletjie help om die Nels se begroting te laat klop, sê hy. Hy het al die jare, tot met sy aftrede, in Transnet se pensioenafdeling gewerk.

Sy eerste stalletjie was in 1974, ’n opvoutafel met bottels, op die hoek van Breë- en Jeppestraat in Johannesburg. Vir 13 jaar lank het hy en ’n vriend op ou stortingsterreine bottels uitgegrawe. Hy vertel vir elke 40 bottels wat mens op ’n dag kan uitgrawe, sal jy miskien vyf blou bottels kry as jy gelukkig is. Op die rak staan albaster-bottels, klapperolie-, soetolie- en kasterolie-bottels. En daar’s nog baie in kratte wat nog nie eens gewas is nie, sê hy.

Daar’s ook ’n ou Case Gin-bottel, die soort wat ’n mens op die negosielyste van die ou trekkers sal opspoor. Gif-bottels het riffels gehad, vertel Nel, sodat mens selfs in swak kerslig kon weet of jy nou ’n bottel met gif in jou hande het.

Nel vertel van die outydse tandepastahouers wat hy in Doornfontein uitgegrawe het.

“Ek dink dit was Barney Barnato se vullishoop,” lag hy, “want net die ryk mense het in daardie jare tande geborsel.”

Sy kosbaarste besitting, sê hy, is sy Paul Kruger-muntversameling veral ’n munt van 1894 wat skeef gemunt is.

Hy versamel al 45 jaar lank munte: duite, riksdaalders, wawielpennies, kaalponde. Sy oudste munt dateer van 350 v.C. Daar’s munte uit Mexiko, Maleisië, Spanje en Swede, ou Griekse en Romeinse munte en munte uit China en Japan.

“Maar jy weet, jy kan nooit alles hê nie. Dit is onmoontlik.”

Dan is daar die Bybel wat in 1686 in Holland gedruk is. Dié het hy gekry toe hy en ’n vriend van huis tot huis geloop het in die destydse swart woonbuurte.

Nel sê deesdae is items wat krygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog in kampe gemaak het gesogte versamel-items.

Dis juis Africana wat sy hart warm laat klop.

“Ek is ’n regte Afrikaner,” sê hy.

En ’n wandelende ensiklopedie.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 16° icon
PTA 3° - 19° icon
JHB 2° - 18° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 10° - 21° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs