Dit is ’n vaal, stowwerige dag toe Oos-Rand-Beeld Duduza besoek, skuins voor die eerste herdenking van die dag waarop mense se lewens in dié township drasties verander het.
Destyds is geraam dat sowat 2 370 mense deur die tornado, wat slegs drie minute geduur het, geraak is.
Ons ry die dorp binne met een vraag: In watter mate het die lewe hier in die afgelope jaar na normaal teruggekeer?
Ons eerste stilhouplek is die Customer Care Centre waar die bestuurder, Ndoli Mosiane, ons in sy ruim kantoor ontvang.
Hy vertel van die gedenkbyeenkoms wat op 2 Oktober gehou word om dié dag te herdenk.
Hoewel ’n volledige verslag binnekort beskikbaar sal wees, sê hy omtrent 90% van die werk (om huise te herbou en te herstel) is afgehandel.
“Sowat 1 000 huise is van nuuts af gebou of herstel. Daar is net sowat 100 oor wat nog herstelwerk nodig het.”
Hy sê hulpverlening van die publiek het baie gehelp, maar dat hulle dit sal waardeer as die private sektor met die orige 100 huise sal help.
“Wat gedoen kon word in die jaar wat verby is, is gedoen,” voeg hy by toe ons groet.
Ons ry in die rigting van die gebied waar die wind verwoesting gesaai het. Rye nuwe huisies met straatname en -nommers op blink plaatjies begroet ons. In Coolbreezestraat sit Elias Mosehle (50) op sy nuwe huis se stoep.
“Dit het geklink soos hael,” onthou hy dié Sondagaand.
“Alles het so vinnig gebeur. Ons huis se dak was weg en die vensters was stukkend.”
Hy wys na ’n ry splinternuwe huise oorkant sy huis. “Al daardie huise was platgevee. Daardie oggend kon ons die Spaarwaterdam hier van ons huis af sien.”
Hoe lank het hulle gewag dat hul huis herstel word?
“Oe, hulle het lank gevat,” sê hy. “Die dag ná die tornado het hulle ons belowe dit sal voor Desember wees. Ons het omtrent twee maande gelede eers teruggetrek.”
Hy wys na ’n klein hut langs sy huis. “Ons het daar gebly, ek en my vrou en twee kinders.”
Volgens destydse berigte is 600 tydelike hutte ná die tornado opgerig.
Dat so baie huise in die tornado verwoes is, het destyds vrae laat ontstaan oor die gehalte van die Hop-huise. Daar was beweringe dat geen versterking in die mure van die huise ingebou is nie en dat die sement wat vir die huise gebruik is met sand verdun is om koste te bespaar.
Calben Ngwenya (45), Mosehle se buurman, sê hy sal die aand van die tornado nooit vergeet nie.
“My huis se dak het begin beweeg,” vertel hy en wys die letsel op sy gesig waar ’n sinkplaat of iets hom getref het. “Dit was verskriklik.”
Ngwenya stem in om ons te neem na Thembi Mkhatswa, die vrou wie se seun Sabelo die enigste mens is wat daardie aand gesterf het.
Mkhatswa praat nie Engels nie en Ngwenya tolk vir ons.
“Ek dink nog elke dag aan hom,” sê Mkhatswa. “Selfs as ek TV kyk, dink ek aan hom.”
Sy wys vir ons foto’s van Sabelo en vertel hoe bekommerd sy is oor haar ander seun wat nou in gr. 1 is. Hy is ná die tornado geopereer en nou swel sy kop soms en sy neus bloei gereeld. Sy sê ’n baksteen het hom daardie nag teen die kop getref.
“Ek het nie geld om hom dokter toe te neem nie,” sê sy. “Ek gee vir hom Disprins vir die pyn.”
Mkhatswa wys die barste in haar huis se mure en vertel hoe dit lek as dit reën. Sy lig die bed se deken op sodat ons kan sien die bed staan op bakstene.
Ngwenya sê baie mense kon nog nie die meubels wat daardie aand verwoes is, vervang nie. Mense kla ook dat die nuwe huise bars.
Bouwerk aan Mkhatswa se buurvrou se huis het nog glad nie begin nie. Sy woon steeds in die tydelike hut.
Die son bak blink op die rye nuwe sinkplaatdakke. In Duduza is die enigste bome ’n paar vrugtebome wat nou bloeisels dra. By ’n spaza-winkel staan ’n groep jong mans en gesels. Die wind waai en ons vee die stof uit ons oë.
By nog ’n stukkende huis waarvan die vensters met sinkplate toegemaak is, sê Johanna Mlulange (50): “Hulle slaan sommige huise oor. Hulle kom skryf goeters neer en dan kom hulle nooit weer terug nie.”
Ons laaste stilhouplek is by Sakhile Diale (24).
Diale sê hy kan nie veel van die tornado onthou nie, want hy was te dronk.
“Ek het eers die volgende dag die verwoeste huise gesien. Daar was niks van ons huis oor nie.”
Diale sê hulle is vyf mense wat sedert daardie nag in die tydelike hut langs hul huis bly. Hulle kook ook daar en moet die bure se toiletgeriewe gebruik.
“Hulle het so drie maande gelede vir ons ’n nuwe huis begin bou, maar nou staan die bouwerk stil.”
In die motor op pad terug kantoor toe dink ek: Baie is in die afgelope jaar vir Duduza se rampslagoffers gedoen, maar vir baie was dit ook ’n jaar van wag.
Vir baie is die wag nog nie verby nie.