Tuisblad / Nuus / Rioolvuil besoedel al lank

Onverwerkte rioolvuil spoel al meer as ’n jaar lank uit ’n mangat by die Pomona- rioolpompstasie in Kempton Park ongeag klagtes aan die Ekurhuleni-metroraad.

Tydens Oos-Rand-Beeld se besoek aan die pompstasie het water uit die mangat gestroom en voëls het tussen die rioolvuil na kos gesoek.

’n Slegte reuk het oor die gebied gehang. Dié rioolvuil loop tot in die nabygeleë klein Bredell-dam.

“Die Pomona-pompstasie is al oor baie jare ’n probleem,” sê Pieter Henning, ’n DA-raadslid.

“By tye het dit goed gewerk maar wanneer dit baie gereën het, loop dit oor.” Hy het die metroraad aan die begin van die jaar oor die pompstasie gekontak. Volgens Henning oorskry die invloei van rioolvuil die kapasiteit van die pompstasie.

“Die pompe kan nie die inkomende volumes (rioolvuil) hanteer nie,” sê hy. Volgens hom is die “ondergrondse infiltrasie” in die hoofriole ook ’n moontlike probleem.

Henning meen die pompstasie kan nie die volumes hanteer nie weens die aanhoudende aansluiting van nuwe meenthuis-komplekse op die bestaande hoofrioolstelsel.

Glenn Foley woon al 14 jaar lank in Pomona, maar het sy huis nou in die mark gesit.

“Daar is rioolvuil wat in die veld en in die riviere inloop. Wanneer dit baie gereën het, stoot die rioolvuil in ons erf en huis op,” vertel Foley.

“En die ergste is dat ek en my honde altyd in daardie dam gaan swem het. Dit was altyd so mooi daar,” sê hy. Volgens hom kan hulle die rioolvuil dikwels tot by hul huis ruik.

“Die paddas en krappe gaan dood. Die voëls is ook besig om te verdwyn,” sê hy.

Terry Rubenstein, ’n inwoner van Pomona en voorsitter van die Pomona-inwoners- en besigheidsvereniging, stem saam.

“Die ontwikkeling en verstedeliking van die omliggende area is goed en wel, maar die pompstasie word nie opgegradeer om dit te hanteer nie,” sê Rubenstein. Volgens hom is baie van dié ontwikkelings boonop onwettig, omdat bouplanne nie ingedien word nie en eiendomme nie gehersoneer word nie.

“En op die ou einde is dit die inwoners wat die gevolge dra. Niemand gaan meer daar wil koop nie.” Rubenstein sê die water syfer uit die dam deur die Serengeti-landgoed.

Volgens Linda Leonard van die Rietvlei-laboratorium vloei die water vanaf die dam in Bredell tot in Swartspruit en kom dit eindelik by die Rietvlei-reservaat in Pretoria uit.

“Die besoedeling kan wel ’n invloed hê, maar die Tshwane-metroraad het verskeie maatreëls vir risikobestuur in plek om die invloed te verminder voor die water in die Rietvleidam beland,” sê Leonard. Hy verwys na twee vleilande en die Marais-dam wat ’n bufferdam is.

“Die onmiddellike probleem kan moontlik opgelos word deur suigvragmotors te kry om die volumes in die opgaarput te verminder,” sê Henning. Hy meen egter alle nuwe riool-aansluitings sal onmiddellik gestop moet word tot die probleem opgelos is.

Volgens Sam Modiba, woordvoerder van die Ekurhuleni-metroraad, is die raad bewus van die probleem en “voortdurend besig om te ondersoek” hoe hulle die besoedeling kan verminder.

“Herstelwerk aan die pompstasie is ook onderweg en sal binne die volgende vier maande voltooi wees,” sê hy. Volgens Modiba is die metroraad besig om dié pompstasie uit te faseer, maar sal dit ongeveer drie jaar neem.

Kyk ook na die fotogalery van die besoedeling.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 19° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 23° icon
BLOEM 3° - 24° icon
DBN 14° - 27° icon
PE 12° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs