Tuisblad / Artikels / Elke lughawe-hond kry sy dag

Go! Go! Sa! Soek-soek!” roep Mariano Booysen, ’n voël-en-wildlewe-beampte van die lughawensmaatskappy (Acsa).

Die rooi alle-terrein-voertuig (ATV) kom tot stilstand en Chase spring van sy sitplek af. Hy hardloop heen en weer langs die aanloopbaan en verdwyn tussen die gras voor hy weer al snuffelend te voorskyn kom.

Hy lyk sommer opgewonde as sy stert so heen en weer swaai.

Chase, ’n Engelse spanjoel, is die nuutste toevoeging tot die span honde wat deel is van Acsa se program om voëls wat vliegtuie tref te verminder.

Vir dié program word honde opgelei om voëls rondom die aanloopbane van die O.R Tambo-lughawe te verjaag, verduidelik Ronel Steenkamp, ’n voël- en wildbeampte van Acsa.

Dié program is vanjaar tien jaar oud. Voorheen is onder meer voëlverskrikkers en gaskanonne aangewend om voëls soos tarentale, reiers, hadidas en kiewiete te verjaag.

Volgens Steenkamp word die voëls mettertyd aan dié verskrikkers gewoond en is dit dan ondoeltreffend.

 Bestuur die habitat

“Voëls wat in vliegtuie vasvlieg, kan lugrederye baie geld kos wat skade en vertragings betref,” verduidelik Steenkamp.

Sy sê die program met die honde is tot dusver suksesvol omdat die voëls die honde as roofdiere beskou.

Sy vertel dat die honde die voëls nie heeltemal verjaag nie, maar eerder wegjaag van die gedeeltes rondom die aanloopbaan.

“Behalwe vir die honde bestuur ons ook die habitat deur die gras ’n sekere lengte te sny. Dan is dit te kort vir die reiers, maar te lank vir die kiewiete.

“Geen spesie word bevoordeel nie, maar niemand word benadeel nie.”

Enige stilstaande water word ook vinnig gedreineer, sê Steenkamp. Sy verduidelik dat die lughawe met voëls sukkel omdat dit op ’n vleiland gebou is wat voëls lok.

“Dis veral moeilik in die somer nadat dit gereën het en daar baie insekte is,” sê sy.

Nie enige hond nie

Tot dusver is Skotse skaaphonde gebruik om die voëls te verjaag omdat hulle baie gehoorsaam is, maar ook omdat hulle ’n herders-instink het en die voëls in ’n sekere rigting kan stuur.

Volgens Steenkamp werk die nuwe Engelse spanjoele net so goed omdat dit ’n honderas is wat deur jagters gebruik word om voëls in lang gras uit te snuffel.

Dis egter nie enige hond wat vir dié program opgelei kan word nie.

“Omdat dit ’n baie fisieke werk is moet die hond nie te groot of te klein wees nie. Die honde spring voortdurend op en af van die ATV en kan hul gewrigte seermaak,” verduidelik Steenkamp.

Die honde wat hulle gebruik, word jaarliks deur ’n veearts ondersoek.

Die skaaphonde word deur skaapboere opgelei totdat hulle ongeveer 18 maande oud is en die spanjoele het ook hul eie afrigter.

“Die honde moet heeltemal opgelei wees voordat hulle lughawe toe kan kom,” sê Steenkamp.

“Dis baie belangrik dat die honde gehoorsaam is omdat dit so gevaarlik is met al die vliegtuie.

“Hulle word met fluitjies beheer en leer om agter die voëls aan te gaan, onmiddellik op te hou as jy een fluitjie blaas en terug te kom as jy ’n ander fluitjie blaas.”

Beste vriende vir altyd?

Die ATV stop en Chase spring af. Hy kom terug met ’n meeu wat al ’n tydjie dood is. Booysen prys die hond en vryf sy kop.

Hulle is vier beamptes wat die aanloopbaan in skofte patrolleer, elk met hul hond.

Steenkamp is Tina, ’n Skotse skaaphond, se hanteerder.

“Daar is ’n sterk band tussen jou en jou hond. En wanneer die hond aftree, het die hanteerder die eerste keuse om die hond te hou,” sê sy.

Natuurlik is daar ook risiko’s, soos slange en die twee sekretarisvoëls.

“Ons jaag húlle met die ATV-karretjies, want as die honde hulle probeer jaag, jaag húlle die honde,” lag Steenkamp.

Die span sien ook daarna uit om vroeg volgende jaar vir Gryffon, nóg ’n Engelse springerspanjoel, in hul midde te verwelkom.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 16° icon
PTA 3° - 19° icon
JHB 2° - 18° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 10° - 21° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs