Tuisblad / Artikels / Toeka tot toekoms

Die eerste Toekafees ten bate van kindersorg vind Saterdag en Sondag in Kemptonpark by die Dries Niemand-park plaas. 'n Paar uitstallers vertel wat besoekers aan dié fees kan verwag.

Neville Botha van die Vaaldriehoek staan ook bekend as “Mnr. Enjin”. Dié bynaam is juis omdat sy versameling van enjins in so ’n goeie toestand is. Onder die enjins wat uitgestal gaan word, is “Neville’s Red Devil”.

“Sover ek weet is dit die oudste enjin in die land,” vertel Botha. Hy sê feesgangers sal sowat ses tot agt enjins by sy stalletjie kan sien.

Volgens Botha is dit belangrik om die geskiedenis te onthou. Hy meen as dit nie was vir mense wat oudhede bewaar het nie, sou baie van dié toestelle as skroot verkoop word.

Die Blikplek kom al die pad van die Oos-Vrystaat af. By dié indrukwekkende stalletjie kry jy kunswerke gemaak van blik, emalje, geroeste yster en staalplafonne van engele en rose tot lampskerms en fotorame.

Die unieke dekorprodukte word in Ficksburg vervaardig. Die Blikplek het al meer as een eerbewys ontvang. Kom ontmoet Sandra Netherlands, die eienaar, by die Toekafees.

Het jy geweet deur selfs die eenvoudigste radio en antenna te gebruik, kan radioamateurs met mekaar en selfs met radio-amateurs in die buiteland kommunikeer?

By die Toekafees gaan Gideon Jannash van Sasolburg en ander radioamateurs jou wys hoe. Radioamateurs, oftewel “hams”, kan selfs satelliete gebruik om kontak te maak met ruimtevaarders en dit van hul huis af.

Johann Smith kom van Pretoria Bloubulkontrei, soos hy dit noem. Johann gaan saam met ander versamelaars antieke speelgoed uitstal. “Daar gaan ’n wye verskeidenheid speelgoed wees. Van die ou Dinky Toys tot regte kinderspeelgoed soos Tonkas,” sê hy.

Een van die hoogtepunte gaan die trapkarre vir kinders wees. Volgens Smith dateer van dié trapkarre uit die vroeë 1900’s. Hy sê ook mense moet hul oë oophou vir die pienk trekkers wat uitgestal gaan word.

Fritz van der Merwe sê hy het self as ’n agtjarige klong op ’n Vaaljapie leer trekker bestuur.

“’n Paar jaar gelede het die gogga my toe gebyt en het ek ou trekkers begin restoureer,” sê Van der Merwe, ’n werktuigkundige van Benoni wat ook besig is om aan ’n Massey Ferguson-koperpens te timmer.

Sy 1954-Vaaljapie sal by die Toekafees te sien wees.

Mgé Swart kom al die pad van Richmond om sy handsentrale te kom uitstal. Hy sê feesgangers sal onder meer na ’n skakelbord en telefoonhokkie uit toeka se dae kan kom kyk.

Met die dat hy jare se ondervinding opgedoen het en by sowat 100 sentrales gewerk het, sal hy ook sy interessante staaltjies oor sentrales met mense deel.

Hy meen die Toekafees sal mense weer bewus maak van dit wat in die verlede was, maar ook oor dit wat mense saam kan bereik in die toekoms.

Toegang tot die Toekafees is R30 per volwassene en R10 per skoolgaande kind. Dit begin om 08:00 albei die dae en duur tot 17:00.

Vir meer inligting, bel Mauritz Meyer by 083 513 6632 of Pieter van Rooyen by 082 338 9856.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-05-22
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 14° - 21° icon
PTA 6° - 24° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 4° - 24° icon
DBN 14° - 28° icon
PE 13° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs