Tuisblad / Artikels / ‘My lewe is ’n wonderwerk’

Die rockgroep Fourteen40 se boodskap by skole is dat die onmiddellike bevrediging wat dwelms bied nie opweeg teen die verpletterende gevolge wat dit op jou lewe het nie.

En dat genesing wel moontlik is. Daarvan getuig die groep se leier en liedjieskrywer, Ren Bester (33).

“Dat ek hier sit is ’n wonderwerk,” sê dié musikant en aanbiddingsleier by die New Day-gemeente in Edenvale.

Fourteen40 besoek hoërskole landwyd. Die groep se naam verwys na die 1440 minute wat daar in ’n dag is. “Gebruik dit wys, want dit kan jou laaste wees,” is hul raad.

Dwelms en drank was jare lank die oorsaak van groot hartseer in sy lewe, vertel Bester.

“Die onmiddellike bevrediging wat jy daaruit kry is fenomenaal, maar wanneer dit verby is, voel jy leeg. Dit is alles ’n leuen.”

Bester, wat in Roodepoort grootgeword het, sê sy pad met dwelms het in 2000 in Londen begin toe hy 21 jaar oud was.

“Ek kom uit ’n goeie huis en het as kind reeds my lewe vir die Here gegee. Ek is destyds Londen toe om ’n rockgroep te begin. Ek was net drie maande daar toe iemand wat saam met my by ’n pub gewerk het my aan kokaïen bekend gestel het.

“Ek was naïef en nuuskierig. Ek het nooit voorheen met dwelms te doen gehad nie en het niemand geken wat dwelms gebruik nie. Ek het regtig nie geweet dit kan so erg raak nie.”

Die verslawing het Bester se lewe so oorgeneem dat hy maande later terug in Suid-Afrika vir diefstal betrap is en na ’n rehabilitasiesentrum gestuur is.

Dit was die begin van ’n wipplank-lewe.

“Ek was nege maande skoon voordat ek weer begin gebruik het,” onthou hy.

In 2006 was hy vir die hele jaar in ’n rehabilitasiesentrum, waarna hy vir 10 maande skoon was.

Maar toe was dit alkohol wat hom gepootjie het.

“Ek was vasgevang in ’n lewe waarin ek net myself bevredig het maak nie saak wat die koste was nie.”

Fourteen40 se eerste album, Lucky Number 13 is in daardie tyd in November 2009 uitgereik.

Dit het goed gegaan met die groep, vertel Bester, maar sy eie lewe was op die afdraande pad.

“’n Liedjie van die album, Inside Out, was nommer twee op 94.7 Highveld Stereo se Home Brew-trefferlys en Mother Mother het nommer een geword.”

As gevolg van die toestand van sy lewe het hulle egter besluit om vir eers die groep te ontbind.

“In Februarie 2010 het ek op my knieë gegaan en om hulp gevra. Ek het besef ek gaan myself dooddrink.”

Hy het toe reeds sy motor verkoop en al die geld aan drank spandeer.

“Ek het gevra, asseblief, Here, help my, my lewe is ’n gemors.”

Dit was die liefde en vergifnis van die meisie waarmee hy toe uitgegaan het en wat later sy vrou sou word, wat ’n finale ommekeer in Bester se lewe gebring het.

“Daar was ’n finaliteit wat ek nie kon ontken nie. Vir die eerste keer was ek nie net spyt nie, maar het ek werklik berou gehad.”

Hy is vir ses maande terug na sy ouerhuis, waar hy met ope arms ontvang is.

“Dit was soos die verlore seun wat huis toe gekom het.”

Bester se stem verander wanneer hy oor sy groot liefde praat met wie hy in Oktober 2010 getroud is.

“Die Here het my lewe weer bymekaargesit.”

Oor die valstrik van dwelms sê Bester: “Ons lewe in ’n wêreld wat kitsbevrediging aanmoedig, maar enigiets wat die moeite werd is, is die moeite werd om voor te wag.”

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-05-22
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 13° - 26° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 22° icon
BLOEM 4° - 23° icon
DBN 13° - 25° icon
PE 11° - 30° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs