Tuisblad / Nuus / Blinde navigator 2012-sportvrou

Bonita Blankenberg (30), ’n blinde tydren-navigator wat vroeër vanjaar vir ’n Ekurhuleni-sportprys benoem is, is onlangs aangewys as Gauteng se gestremde sportvrou van die jaar.

Sy het die prys op ’n geselligheid by Emperors Palace in Kempton Park ontvang.

“Ek is baie opgewonde oor die prys, maar ek het dit regtig nie verwag nie. Ek het gedink dit sal waarskynlik aan iemand in atletiek gaan,” sê Blankenberg.

Sy meen dié soort pryse is nodig in die sportwêreld omdat dit mense kan aanmoedig om deel te neem en te presteer.

“Dalk sal ander mense dan besef dis alles eintlik groot pret,” meen sy.

Blankenberg het verlede jaar in die nasionale tydrenkampioenskap vir blindes gewen. Sy het ook saam met Jerry Paice van Alberton in die agtersaal-klas (700cc tot 1200cc) in verlede jaar se RFS-motorfietsbesparingsrit gewen.

Blankenberg was die eerste blinde deelnemer in die motorfiets-kategorie. Sy is baie trots op dié prestasie.

Sy kom oorspronklik van die Kaap en woon deesdae in Midrand. Sy sê sy het reeds in die Kaap aan motorsport begin deelneem, maar het dit destyds net vir die lekker gedoen.

“Toe ek hier kom woon, besef ek die mense hierbo neem deel om te wen. Hulle hou van wen!”

Sy neem al tien jaar as ’n navigator deel, maar sy en Paice ding al sowat twee jaar as ’n span mee.

Blankenberg geniet die sport baie en sê sy is altyd verlig as hulle nie verdwaal het nie.

“Dis altyd ’n hoogtepunt as ons klaarmaak met ’n wedren en hulle hoef nie ’n soekgeselskap uit te stuur om ons te kry nie!”

Sy en Paice ding mee teen deelnemers waarvan die navigator kan sien.

Sy ontvang vooraf haar roete-skedule in braille en kry ook bykomende inligting oor afstande, spoed, tyd en instruksies, wat siende deelnemers nie kry nie.

“Dan moet ek byvoorbeeld vir Jerry sê om om 09:35 100km per uur te ry en by die T-aansluiting links te draai.

“Ek lees alles vir hom en hy moet doen wat ek sê,” verduidelik sy.

“Daar is so ’n grap tussen ons... ek het nooit geweet ’n mens kan net links óf regs draai by ’n T-aansluiting nie!” lag sy.

Blankenberg hoop om deur haar betrokkenheid by die sport meer mense te inspireer om ook aan motorsport deel te neem.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Sondag 2013-05-26
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs