Die dag in 2006 toe Kate Lehong (49) die bult na Unisa se hoofgebou in Pretoria uitgeklim het om vir haar studie in maatskaplike werk te registreer, was ’n mylpaal in haar lewe.
Dié huiswerker van Edenvale beoog om haar studie teen die einde van vanjaar af te handel.
Sy kyk met trots terug oor die pad wat sy geloop het. “Dit was nie maklik nie, maar kyk waar is ek nou. Ek het dáár onder begin. Maar nou is ek hier.”
Lehong se storie begin eintlik 16 jaar gelede toe sy besluit het om matriek aan te pak.
Sy sê sy onthou nog hoe sy as kind, die jongste van tien, so graag haar skoolloopbaan wou voltooi.
“Ek wou ’n onderwyseres of ’n verpleegster word, maar my ouers het nie geld gehad nie,” vertel sy van haar grootworddae in Hammanskraal. “Ek het net st. 8 klaargemaak.”
In 1996, toe sy reeds jare lank ’n huiswerker by verskillende gesinne in Johannesburg was, het sy besluit om haar vir matriek in te skryf. Daardie jaar het sy vir drie vakke ingeskryf en die volgende jaar vir nog drie. Teen einde 1997 het sy haar matrieksertifikaat gekry.
Lehong werk die afgelope 12 jaar by dieselfde gesin. Sy het egter bly droom van ’n ander lewe en het begin om geld weg te sit.
“Ek het vir myself gesê ek kan nie net sit en vir altyd ’n huiswerker wees nie. Ek het geweet ek wil meer doen.”
Dit was toe ’n vriendin twee Unisa-jaarboeke in die asblik gooi dat Lehong se droom begin wink het.
“Ek het haar gevra of ek die boeke kan kry. By die huis het ek deur die boeke gekyk en geweet: dít is wat ek wil doen.”
Toevallig was dit daardie naweek die laaste kans wat voornemende studente gehad het om by Unisa te registreer.
Selfs toe ’n vriend wat saam met haar Pretoria toe sou gaan haar in die steek laat, het dit haar nie gestuit nie.
“Ek is met ’n taxi Pretoria toe. Ek het nie geweet hoe om by Unisa te kom nie. Ek vra toe rond en die mense sê ‘gaan net reguit aan, volg net die baie mense wat ook soontoe gaan’.
“Ek het geloop en geloop. Toe kom ek by die onderkant van die bult. Sjoe, dit was nie maklik nie! Ek loop en loop.”
’n Jong student het by haar aangesluit en agtergekom dit is haar eerste keer by Unisa.
“‘Ek sal jou help om die vorms in te vul,’ bied hy toe aan,” onthou sy. “Ek het nie geweet waar om te gaan of wie om te vra nie.”
Die jong man het Lehong gehelp en saam met haar in die ry gestaan om te registreer.
“Ek het hom nooit weer gesien nie,” sê sy.
“Ek het my studiemateriaal gekry en was glad nie seker of ek dit sal kan doen nie.
“Toe ek by die huis begin lees, het ek nie geweet waar om te begin nie.”
’n Vriendin se tienerseun het tot haar redding gekom en saam met haar deur die materiaal gegaan. Haar eerste vakke was maatskaplike werk en welsynsreg.
Lehong sê hoewel haar werkgewer baie ondersteunend is, is haar studie sáám met die huiswerk wat sy moet behartig ’n uitdaging.
“Ek werk van 07:00 tot 18:00, Maandae tot Vrydae. Soms slaap jy nie. Ek leer elke aand, soms tot 02:00 in die oggend. Daar’s nie tyd vir kuier nie.”
Lehong sê sy kan nie wag om as ’n maatskaplike werker te begin werk nie.
“Om huiswerk te doen is goed en reg. Jy kan só baie geld wegsit. Maar as jy ’n ander droom het, moet jy dit najaag.”