Twee Oos-Randse waaghalse het nóg ’n vuurtonnel oorleef.
Dié keer is ogiesdraad ingespan om die twee lae brandende karton in die staalraam in posisie te hou.
“Ons leer nog elke keer. Karton werk beter as papier. Die wind moenie die kans kry om stukke brandende karton in die skare in te waai nie,” sê Enrico Schoeman van Boksburg, wat verlede Saterdag saam met sy vriend, André de Kock, die 36 m lange vuurtonnel met hul Kawasaki aangedurf het.
Dié vuurtonnel was deel van Vadersdagvieringe by die Mall@Carnival in Brakpan.
Schoeman en De Kock hou die wêreldrekord vir 73,3 m en berei hulle nou voor vir ’n tonnel van 85 m in Augustus by die Waterberg-wildsfees in Vaalwater.
“Dit is beslis die gevaarlikste toertjie wat ek nog gedoen het,” sê De Kock, wat saam met Schoeman reeds in die vroeë 1970’s toertjies begin doen het. Volgens De Kock is dié toertjie nog nie voorheen in Suid-Afrika gedoen nie.
Ten spyte van die koue weer was die afwagting onder toeskouers groot toe nooddienste, die brandweer en veiligheidspersoneel teen sononder hul vere begin regskud het.
Die jaagtog was vir 18:00 geskeduleer.
Die Kawasaki, wat deesdae pienk geverf is ter ere van kankerlyers, se ketting het die vorige dag gebreek, vertel Schoeman. “Jy weet, as dit in die tonnel gebeur het, was ons dood. Jy kan nie in daardie vlamme stop nie.
“Dit word tot 900 °C in die tonnel,” voeg De Kock by.
Met ’n nuwe ketting, geen remme en geen suspensie nie gaan hulle nou weer die brandtonnel aandurf.
Is hulle bang? “Nee, mens hoop maar net dat alles volgens plan sal verloop,” sê De Kock.
“Die hele tonnel moet brand voordat ons deurry en moet steeds brand as ons aan die ander kant uitkom. Die tonnel brand slegs vir 30 sekondes. Ons moet dus in die middelste 10 sekondes deurry.”
Perfekte tydsberekening is hier alles, ook vir die fotograwe by die veiligheidsheining wat elk hoop op die perfekte foto.
Die oomblik het aangebreek.
Die waaghalse in hul vuurvaste oorpakke is op hul fiets en gereed.
“Nou gaan jy sien hoe 24 uur se harde werk in ’n paar sekondes vernietig word,” skerts Hannes Taljaard, tegniese bestuurder van Khalanga-ingenieursprojekte in Boksburg. Khalanga het die staalraamwerk gebou en dit is ook hulle wat naderstaan om dit aan die brand te steek.
Die skerp reuk van diesel en petrol vul die lug.
Die karton word deurweek met 120 liter brandstof en met fakkels aan die brand gesteek.
Helder oranje vlamme lek-lek aan die karton en binne enkele sekondes is die tonnel in vuur gehul. Vuurvlamme verlig die winternag. Van waar ons staan kan ons nie sien toe die motorfiets die tonnel binnegaan nie.
Die sekondes word afgetel. Alles is net vlamme en rook.
Shoeman het vroeër gesê terwyl hulle binne die tonnel is, kan hulle niks sien nie.
Dan kom die motorfiets deur die vlamme te voorskyn. Albei ryers is ongedeerd.
Dit is ’n risiko, het Brian Mengoai, een van die aanstekers vroeër opgemerk. “Maar risiko’s is deel van die lewensreis.”
En al was die vlamme dié keer nie so groot soos die twee waaghalse daarvan hou nie, is die twee manne tevrede.
En reg vir 85 m.