Ses jaar effektiewe tronkstraf ná ’n voorval van padwoede in Benoni is hoegenaamd nie te swaar nie.
Drie appélregters het beslis Craig Grigor van die Oos-Rand het in Januarie 2008 geweld toegepas wat buitensporig ernstig was teen ’n ongewapende man in ’n voorval van padwoede.
Dit het gebeur nadat ’n ander man, wie se naam nie in die uitspraak genoem word nie, ’n u-draai gemaak het.
“Allerhande gebare en ongeskikte handseine” is tussen die bestuurders van die twee voertuie gemaak voordat hulle albei gestop en mekaar begin verskree het.
Grigor het ’n mes en ’n vuurwapen by hom gehad. Hy het die ander man verskeie kere met die mes gesteek, onder meer in die gesig, bors, maag en dybeen. Die steekwond in die maag was só diep dat een van die man se ribbes raakgesteek is.
Volgens mediese getuienis het Grigor “ernstige geweld” gebruik toe hy die man met die mes aangeval het.
Sy verweer van selfverdediging voor appélregters B. van Heerden, S. Snyders en Z. Tshiqi is verwerp.
Hy het aangevoer hy het homself beskerm omdat die ander (ongewapende) man “aanhoudend vorentoe gekom het, selfs nadat ek hom die mes gewys en hom die eerste keer gesteek het”.
Die drie regters het gesê benewens die buitensporige geweld kon Grigor op ander maniere geweld vermy het. Hy kon byvoorbeeld net in sy kar geklim en weggery het.
Die regters het gesê daar is geen rede om met die vonnis van ses jaar tronkstraf in te meng nie, omdat Grigor ’n fout, “en ’n baie ernstige fout”, gemaak het.