Nuus / Dit is goedkoper om in Ekurhuleni te bly

Vir elke huishouding in Ekurhuleni wat betaal vir munisipale dienste, is daar drie wat gesubsidieer moet word.

Só het Moses Makwakwa, burgemeesterskomiteelid vir finansies in Ekurhuleni, gister gesê tydens die bekendmaking van dié stad se begroting in Germiston.

Volgens Makwakwa kan dié syfer in die medium termyn vermeerder tot ses huishoudings.

Tog is dit steeds goedkoper om in Ekurhuleni te bly as in Tshwane, Kaapstad en Johannesburg.

’n Tipiese munisipale rekening in Ekurhuleni beloop R1 032,45 per maand teenoor R1 296 in Tswhane en R1 329 in Johannesburg.

Inwoners sal voortaan egter 7,5% meer betaal vir eiendomsbelasting, 11,03% vir elektrisiteit, 11,3% vir water, 10,68% vir sanitasie en 15% vir vullisverwydering.

’n Groot deel van die begrotingsrede is gewy aan armoedeverligting.

Makwakwa het gesê 92% van die meer as 30% van inwoners van die metro wat werkloos is, kwalifiseer net vir ongeskoolde en halfgeskoolde werkgeleenthede. Slegs 8% van inwoners het ’n kwalifikasie hoër as matriek.

In die begroting is spesifieke projekte vir werkskepping en die verligting van armoede aangekondig.

“Ons moet die verlede regstel deur aan dié wat voorheen gemarginaliseer is toegang tot die hoofstroom te gee,” het Mondli Gungubele, die burgemeester van Ekurhuleni, gesê.

Arm huishoudings kry steeds 100kWh gratis elektrisiteit. Voortaan sal ’n huishouding wat 300kWh gebruik 25% minder hoef te betaal en dié wat 400kWh gebruik, 27% minder.

Armes kry ook steeds 9 kiloliter gratis water, hul vullisverwydering is gratis en hulle hoef nie eiendomsbelasting te betaal nie.

Om vir dié voordele te kwalifiseer moet ’n mens registreer as hulpbehoewend.

Shelley Loe, DA-koukusleier, het in reaksie op die begrotingstoespraak gesê daar is steeds nie genoeg voorsiening gemaak vir armes nie en dat dit nie protesoptogte sal stop nie.

Sy het gesê min van die metro se beloftes van dienslewering aan armes het in die verlede waar geword het. Waar die aantal plakkerskampe teen dié tyd moes begin afneem, neem dit toe.

Daar is ook ruim begroot vir infrastruktuurontwikkeling.

R581,9 miljoenteenoor die vorige boekjaar se R327 miljoenis toegeken vir paaie en die stormwaterstelsel. R410 miljoen is begroot vir water en sanitasie. Daar is ook planne vir volhoubare sanitasie-geriewe in ses plakkerskampe.

R115,2 miljoen is aan die departement van gesondheid toegewys en R398 miljoen vir elektrisiteit.

Die metro se verwagte inkomste vir die nuwe boekjaar is R77 miljard.

Gungubele het gesê wanneer geld bestee word, moet dit gedoen word om transformasie in Ekurhuleni te bewerkstellig.

“Wanneer ons geld in ’n begroting toeken, moet ons vra: ‘Is ons besig om Ekurhuleni te transformeer?’”

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs